Astro word ingewy
2009-02-26
Jaco van Wyk
TER inwyding van Hoërskool Gimnasium se splinternuwe Astro-hokkiebaan, die heel eerste astro-baan in die Paarlvallei, het Gim se o.18 dogtershokkiespan en die Boland dames A-span verlede Vrydag kragte gemeet teen die Argentynse toerspan, Champagnat. Die Argentyne kon nie daarin slaag om een van die twee wedstryde te wen nie. Gim se dogters het die openingswedstryd gespeel en die besoekende span absoluut oordonder. Die Gimmies het uiteindelik met 6-1 koning gekraai, met die besoekers wat tevrede moes wees met ’n enkele troosdoel in die laaste minuut van die wedstryd. Lizhan Bredenhann was die Gimmies se beste speler. In die hoofwedstryd van die dag het die vrouespan van Boland ’n veel taaier aanslag in die oë gestaar. Die Bolandse span het eerste bloed geruik, maar Champagnat het die druk terug op Boland geplaas met ’n gelykmaker. Met Boland se Alisja de Bruyn aan die voorpunt het Boland hard geveg om in die wedstryd te bly. Met dié geveg het die tuisspan uiteindelik die vrugte gepluk en ’n tweede doel het aan Boland ’n 2-1 oorwinning besorg. Na afloop van die wedstryd het die bestuur van Boland Hokkie dit duidelik gemaak dat hulle dankbaar is vir die gebruik van Gim se fasiliteite, en ook vir al die rolspelers wat die dag so suksesvol gemaak het. * Gim se dogters was onlangs ook in aksie teen Worcester Gim en G Factor in saalhokkiewedstryde. Gim se B-span het maklik klaargespeel met Worcester B (5-1) en G Factor (6-1), met Gim se C-span wat vir G Factor met 3-0 getroef het. Gim se o.14’s het ook onlangs kragte gemeet teen Bridge House. Gim se o.14 A’s (1-0), o.14 B’s (3-0) en o.14 D’s (4-1) het geseëvier. Gim se o.14 C’s het vasgeval met 0-2.
More
News
|