Sanra help verslaafdes
2009-02-26
Liezl Dyson
DIE SA Nasionale Raad op Afhanklikheid van Drank en Dwelms (Sanra) het ’n buitepasiënte-sentrum in die Paarl wat hulp en ondersteuning aan mense bied met enige afhanklikheid, asook aan hul gesin. Dié organisasie (ook bekend as Sanca) wat reeds op 1 Maart 1976 sy deure in die Paarl geopen het, bied berading aan verslaafdes as- ook hul gesin. Hulle doen ook gemeenskapswerk en besoek skole en plase om mense in te lig oor die gevare van dwelm- en alkoholmisbruik. Sedert Desember doen hulle nou ook gratis toetse vir MIV/Vigs en bied ook berading. Kliënte kry onmiddellik hul toetsuitslae. Skole verwys ook dikwels kinders wat hulle vermoed probleme het na Sanra. ’n Gemeenskapswerker gaan dan uit tot by die skool en werk dan met die betrokke kind. Kerke verwys ook mense met probleme. Volgens Lorraine Samson, ’n gemeenskapswerker by Sanra, vind sy dat leerders baie gewillig is om oor hul probleme te praat. “In baie gevalle is dit persoonlike probleme of omstandighede by die huis wat lei tot die gebruik en misbruik van dwelms en alkohol. “Die dwelms en alkohol is dikwels ’n “cover-up” vir hul ander probleme en daar moet na die persoonlike probleme gekyk word voor jy die dwelm- of alkoholprobleem kan stop sit,” het Samson gesê. In die ses maande tussen April en September was 57% van die mense wat hulle gesien het, afhanklik van Tik. Sowat 23% was betrokke by alkoholmisbruik en 13% was verslaaf aan dagga of mandrax. Altsame 593 verslaafdes het berading gekry, 325 familielede het berading gekry, en 222 jeugdiges het die groepterapiesessies bygewoon. Dwelmtoetse is ook gedoen. Volgens Alet Ackerman, maatskaplikewerker by Sanra, lyk dit asof Tik-verslawing versprei en alle bevolkingsgroepe raak. Tussen 60% en 70% van jeugdiges tussen die ouderdom van 16 en 27 jaar oud wat hulle kom sien, is verslaag aan Tik, terwyl ouer mense probleme het met alkohol, dagga en mandrax. Soms gebruik mense ’n kombinasie van hierdie middels. Volgens Millicent Frieslaar, ’n verpleegster by Sanca, toon navorsing dat verslaafdes ’n groot risiko loop om MIV/Vigs te kry, en te lank wag om hulself vir MIV/Vigs te toets en om hulp daarvoor te kry. “Dwelms tas die rasionale denke van mense aan wat daartoe lei dat verbruikers ongeoorloofde besluite neem.” Frieslaar het gesê wat hiermee gepaard gaan, is die tendens dat jong mense seks het met dwelmhandelaars om dwelms te kry en so word die MIV-virus ook oorgedra. “Daar is ook baie suksesverhale en in baie gevalle wil die verslaafde na ’n rehabilitasiesentrum gaan om weg te kom van die omstandighede in hul gemeenskap.” Ouers kan hul kinders na Sanra neem vir dwelmtoetse (R40 per toets). Sanra bied ook Woensdae om 09:00 ’n ondersteuningsgroep aan waar ouers hul probleme kan deel en by mekaar kan leer. Om ’n afspraak te maak, skakel 021-872-9671.
More
News
|