Wiggins weer bo
2009-02-26
BEKENDE Wellington sakeman, Bennie Wiggins, se besigheid, Bainsford Motors, is onlangs weer bekroon as Ford se plattelandse handelaar van die jaar. Dit is die tweede keer dat Wiggins met hierdie louere wegstap. Die vorige keer was in 2006. Hierdie landwye toekenning bestaan uit beoordeling van verskeie afdelings wat puik diens verseker, van die aanskaf van die voertuig tot nasorgdiens. Wiggins het gesê dat die besigheid voortdurend daarna streef om die kommunikasie tussen hulle en hul kliënte te verbeter, om sodoende ’n langdurende verhouding te bewerkstellig wat ’n positiewe en aangename ervaring vir die kliënt sal wees. Bainsford Motors het meegeding teen 50 ander Ford- en Mazda-handelaars landwyd. Wiggins is geen nuweling in die motorbedryf nie. Hy het sy loopbaan reeds in 1973 begin en in 1983 het hy en sy broer James hierdie handelaarskap begin in Wellington. Die afgelope sewe jaar is Bennie alleen aan die stuur, en steeds gaan Bainsford Motors van krag tot krag. “Ek is baie dank verskuldig aan my personeel wat ’n belangrike rol speel in die sukses van die besigheid. “Ons streef steeds daarna om net die beste diens aan Wellingtonners te lewer.”
More
News
|