Perderuiter is sportster
2009-02-26
Jaco van Wyk
DIE matriek-leerder van Hoërskool Gimnasium, Dawnay Jacobs, is na afloop van haar spogprestasies in polocrosse aangewys as Paarl Post en SuperSport se heel eerste Let’s Play Sportster van die Maand. Dawnay word tans beskou as een van die beste vroue-polocrossespelers in Suid-Afrika, nadat sy haar land deur al die junior-vlakke verteenwoordig het. Die 17-jarige Gimmie is onlangs gekies om Suid-Afrika in ’n vierhoekige reeks in Australië te verteenwoordig, wat in April plaasvind. Dawnay weet egter hoe dit voel om vir haar land te speel nadat sy Suid-Afrika reeds in 2007 in die Polocrosse węreldbeker verteenwoordig het - dit het van haar die jongste speler gemaak wat nóg die span kon haal. Polocrosse (gespeel soos hokkie op ’n perd se rug) is volgens Dawnay ’n familiesport, en dit is ook hoe sy dié sport as ’n agt-jarige begin beoefen het. “Wat ek die meeste geniet van polocrosse, is die adrenalien wat daarmee gepaard gaan,” sę Dawnay. “Dan is ek natuurlik ook lief vir diere.” Oor die algemeen is Dawnay ’n baie sportiewe mens en geniet sy ook hokkie, atletiek en muurbal. “Ek is maar ’n aktiewe mens en hou nie daarvan om stil te sit nie.” Volgens Dawnay beplan sy om nog lank polocrosse te beoefen, maar haar eerste doelwit is om weer die węreldbekerspan te haal. Dawnay besef egter dat harde werk die enigste resep vir sukses is. Dit is ook die boodskap wat sy graag aan die jeug wil uitstuur. “Ek glo nie in geluk nie, maar in harde werk,” sę Dawnay. “The harder you practise, the luckier you get.”
More
News
|