Bome kry wind van voor
2009-02-26
Christine Siebrits
DIE Wellington Verfraaiingskomitee poog om van Wellington ’n boomryke dorp te maak wat op warm dae ’n oase kan wees. Hulle kry egter telkens die wind van voor, aangesien vandale die aangeplante bome gereeld skend of summier afbreek. Die Verfraaiingskomitee reël elke jaar ’n boomplantgeleentheid tydens die Nasionale Boomplantweek in September. Hulle wil juis probeer om Wellington ’n boomryke en skaduryke dorp te maak. Die palms op die middelmannetjie in Kerkstraat is reeds in Augustus 2003 op inisiatief van die Verfraaiingskomitee aangeplant en die meeste is alreeds mooi groot. Onlangs is een so beskadig dat dit uitgehaal moes word – met jare se groei wat nou verlore is. Vir die meeste Wellingtonners is dit hartverskeurend om hierdie vandalisme te sien gebeur. Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Klein palms word weer geplant, maar dit veroorsaak dat die palms nie almal dieselfde hoogte is nie. Palms is immergroen en gooi nie sy blare af nie en skep ‘n rustige “groen” atmosfeer, veral in hierdie snikhete somersdae van waar die kraaie behoorlik in Wellington gaap. “Hoe bitter jammer dat hierdie ideaal van ’n groen Wellington nie behoorlik gestalte kan kry nie, as gevolg van ’n paar vandale,” sê Eugenie Wiggins van die Verfraaiingskomitee. Die koorsbome in die historiese Fonteinstraat is ook in 2003 deur die Verfraaiingskomitee aangeplant. Aangesien hierdie laning langs Boland-stadion loop, het die rugbyklub onder leiding van Dolf Stemmet goed na hulle gekyk. Maar ook hier het ’n boom onder vandale deurgeloop en waar daar eens ’n pragtige boom gestaan het, is daar nou ’n onooglike gat in die laning. So ook is ’n laning in Champagnestraat geskaad, asook twee bome voor Wellington Mews. Die Wellington Verfraaiingskomitee doen ’n beroep op inwoners – bewaar ons groen Wellington, asseblief. Indien daar iemand is wat dalk ’n groot palmboom en/of ’n groot koorsboom kan skenk, kontak gerus vir Eugenie Wiggins by ewiggins@bainsford.co.za of by 021-873-1151.
More
News
|