Visvangstorie laat niemand byt
2005-08-04
HY was “op pad om te gaan visvang in Lambertsbaai”, met rook wat in Wellington se Kerkstraat uit die boottreiler se vasgekettingde bande borrel.
Dis ook dié dat petroljoggies by Du Plessis Motors verlede Donderdag onraad vermoed het toe die vragmotor met die boot oor die sypaadjie gespring het na die dieselpomp toe.
En dít was minute nadat Philip Steenkamp se buurvrou in Eikelaan opgemerk het hoe die vasgekettingde skiboot uit die erf langsaan weggesleep word.
So het die booteienaar, polisie en belangstellendes op die motorhawe toegesak.
Nee, weet die man agter die vragmotorstuur te vertel. Hy het die skuitjie vir R7000 gekoop en hy is op pad Lambertsbaai toe om te gaan visvang.
Die kwitansie, inspekteur? Nee, dit was in my vriend se sak. Hy het vir ons gaan drank koop vir die pad.
En nou het hy dit nie meer nie, want toe word hy op pad terug van die drankwinkel beroof.
Ja, hy het die slotte en die kettinkie aan die treiler gesien, maar hy het nie gedink dit beteken nou juis iets nie.
Die stukkend gesleepte bande? Nee, hy het niks opgelet nie.
Vandag het Philip Steenkamp sy skiboot terug, met afgeskuurde vin en byna R9000 skade. En met ’n storie amper so ongelooflik soos ’n hengelvertelling.
Die polisie het toe nie die verduideliking van Goetham Shah van Pelikaanstraat wou glo nie en hy en sy vriend, Adam Hendricks, bly vir eers in aanhouding.
Daar is benewens die motordiefstal van verlede week, ook sprake van dronkbestuur.
En dan was daar die vorige skuldigbevinding en vonnis vir die diefstal van ’n trekker...
* A man was arrested for theft after a motorboat with immobilised wheels was hooked up by a passing truck.
More
News
|