Belowende student sterf
2009-02-26
Lise Beyers
’n BELOWENDE plaaslike Matie-student is die afgelope naweek in ’n tragiese motorongeluk dood. Johné Mouton (20) het in die vroeë oggendure van Saterdag ernstige kopbeserings opgedoen, toe haar vriendin Melani Patrick beheer oor haar voertuig verloor het in Jonkershoek, net buitekant Stellenbosch. Die motor het gerol en Johné is ernstig beseer. Sy is later in die Stellenbosch MediClinic oorlede. Melani is net lig beseer. Die ongeluk het gebeur op die vooraand van die een-en-twintigste herdenking van die dood van Johné se pa, John. Hy het op 1 April 1988 in Lambertsbaai verdrink, nog voordat sy gebore is. Johné het in 2006 aan Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer en was tans ’n derdejaar B Comm bestuursrekeningkunde-student. Haar ma, Jeanette, het vertel dat Johné die lewe ten volle geniet het. “Sy was ’n kosbare kind wat altyd ’n glimlag op haar gesig gehad en en ook alles vir haar medemens sou gedoen het.” Johné word oorleef deur haar ma en broer Jacques. Daar word vandag om 15:00 ’n roudiens vir haar gehou in die Strooidakkerk. Sy word môre in Lambertsbaai op die familieplaas begrawe. * A promising Paarl student has died in a crash.
More
News
|