Drank lei na selle
2009-02-26
Lise Beyers
VERSKEIE vroue het die afgelope ruk bewerings gemaak dat hulle deur ’n bedrieglike polisieman toegesluit word. Die bewerings is gemaak nadat vroue afgetrek is toe ’n polisiebeampte vermoed het dat hulle onder die invloed van drank bestuur het. Hulle beweer dat hulle in vuil selle gegooi word vir ‘geen rede’ nie, en dan verdwyn hulle geld ook. By nadere ondersoek is daar egter vasgestel dat die korrekte polisieprosedures wel gevolg is. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat weens die hoë insidensie van motorongelukke wat in die Paarl plaasvind weens drankmisbruik, patrolleer lede van die polisie dikwels omgewings waar drank vrylik gebruik word. “Een spesifieke geval was op die aand van 13 Februarie toe ’n polisiebeampte ’n vrou van die pad wou trek kort nadat sy ’n eetplek naby die Strooidakkerk verlaat het. “Die vrou het weggejaag en die polisie het eers in Markstraat daarin geslaag om haar tot stilstand te bring. Sy is na die Paarl polisiestasie geneem waar sy geprosesseer is, en daarna na Paarl Hospitaal waar bloedmonsters geneem is.” Die verdagte is toe teruggeneem na Paarl polisiestasie en haar regte is weereens aan haar voorgelees. Haar waardevolle items is aangeteken in ’n register en vir veiligheidsdoeleindes toegesluit. Polisiebeamptes het magte om mense wat weens die gebruik van alkohol onverantwoordelik optree en ’n gevaar vir hulself of die publiek is, vir vier uur toe te sluit, sonder om hulle aan te kla, sê ’n woordvoerder. * Police are clamping down on drunk driving in Paarl.
More
News
|