Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bedrog met tjekboek tref prokureur hard

Bedrog met tjekboek tref prokureur hard
 
2009-02-26


’n PROKUREUR van Wellington is met meer as R100 000 bedrieg, nadat haar tjekboek onregmatig by ’n bank afgehaal is.

Dit sal blyk dat hierdie soort bedrog landwyd uitgevoer word deur ’n uitgeslape sindikaat.

Die diefstal is verlede Maandag met skok ontdek, toe die prokureur haar bankstate nagegaan het. Sy het toe besef dat ses van haar tjeks vir bedrae van net meer as R16 000 by banke buite Wellington gewissel is.

Toe sy haar tjekboek nagaan, het sy vasgestel dat geen tjeks weg is nie. By navraag by Absa-bank, is daar aan haar gesê dat haar nuwe tjekboek op 14 Feb­- ruarie by dié bank afgehaal is.

Die hoof-kassier het vertel dat sy die prokureur per landlyn geskakel het, en die persoon het geantwoord asof dit die regsfirma is, en het gesê dat die tjekboek mag afgehaal word.

Maar toe die prokureur agterkom het dat haar foon buite werking is, het Telkom laat weet dat hulle op 14 Februarie instruksies ontvang het dat haar telefoondiens beëindig moet word.

“Hierdie misdaad is so goed beplan. Die diewe weet presies wat om te doen en wat ook skrikwekkend is, is die feit dat hulle selfs my handtekening so noukeurig vervals het.

“Absa sê dat hulle waarskynlik vir my gaan vergoed, maar intussen het ek finansiële verpligtinge om na te kom.”

Kort op die hakke van hierdie bedrog, is nog ’n prokureursfirma van Wellington byna deur dieselfde verneukspul gekul.

Verlede Maandag het ’n man ook by Absa-bank Wellington, aangeklop om ’n tjek vir ’n groot bedrag geld te probeer wissel. Die tjek was dié van ’n trust-rekening waarvan die prokureursfirma tekenregte het.

Weereens is daar gebel om te bevestig dat die tjek gewissel mag word, maar die oproep het aanmekaar na ’n verkeerde nommer deurgekom.

Die kassier het vir ’n selfoonnommer gevra, maar die man wat die tjek probeer wissel het, het gewik en geweeg en beweer dat al die betrokke partye in vergaderings is.

’n Ander Absa werknemer het ingetree en die boekhoudster van die firma direk geskakel. Dit was vir die boekhoudster ’n skok toe sy hoor van die hoë bedrag waarvoor die tjek gewissel moes word, waarvan sy geen kennis dra nie.

Toe die verdagte agterkom dat ’n vangnet om hom gespan word, het hy vinnig die pad gevat.

Beide gevalle word nou ondersoek deur die polisie se bedrogtak in Bellville.

’n Ondersoekbeampte het bevestig dat daar ’n vermoede bestaan dat ’n werknemer van Telkom moontlik betrokke is by hierdie sindikaat, want besighede se telefoonlyne word onderskep en duidelik herlei.

“Maar banke moet meer verantwoordelik optree wanneer dit by die uitbetaling van tjeks kom, asook die afhaal van tjekboeke.”

* A Wellington lawyer has lost more than R100 000 in ’n highly organised fraud scheme involving cheque books and relayed phone calls.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za