Distell groei ondanks moeilike omstandighede
2009-03-05
DISTELL kon daarin slaag om indrukwekkende resultate onder strawwe handelstoestande te lewer. Dit danksy die gesamentlike uitwerking van talle gerekende handelsmerke wat oor sterk verbruikersondersteuning beskik en wat oor die prysspektrum heen egte waarde vir geld bied. Terwyl talle van sy internasionale mededingers verliese rapporteer, kon Distell vir die ses maande tot 31 Desember omset met 21,6% tot R6,1 miljard verhoog danksy verkoopsvolumes wat met 15,9% toegeneem het. Wesensverdienste het met 19,9% tot R650,2 miljoen gestyg en wesensverdienste per aandeel met 19,3%. ’n Dividend van 124 sent per aandeel is verklaar – ’n toename van 19,2% teenoor die vorige jaar se tussentydse uitkering van 104 sent per aandeel. Bedryfsinkomste het met 21,3% gestyg grootliks danksy voortgesette omsetgroei. Die netto-bedryfsmarge was feitlik onveranderd op 15,7%. Jan Scannell, besturende direkteur van Distell, het gesê binnelandse verkoopsvolumes het met 10,7% gestyg en omset met 14,8%. Dié groei is grootliks te danke aan die toenemende gewildheid van die maatskappy se sider- en RTD (Reg-om-te-Drink) handelsmerke wat voortgaan om hul markaandeel te vergroot. Die spiritualieëmark was egter steeds onder druk, en hoewel die maatskappy sy deel van dié kategorie kon uitbrei, het volumes effens gedaal. Scannell het gesê hy is tevrede met die winsgewende groei in Distell se wynvolumes. “Deur ons handelsmerke in ’n uiters pryssensitiewe mark te beskerm eerder as om volume na te jaag, het ons daarin geslaag om verkope te verhoog.” Danksy sy vermoë om hom by veranderende buitelandse handelstoestande aan te pas, kon Distell sy internasionale verkoopsvolumes in alle buitelandse markte met 37,1% verhoog, en sy omset met 54,3%. Spiritualieë het bevredigende groei getoon. In die geval van Distell se wynverkoopsvolumes was die styging hoër as dié van die Suid-Afrikaanse wynindustrie se 23% groei in die uitvoer van gebottelde wyn.
More
News
|