Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Opheffingsprojek vir bosbouwerkers stort in duie

Opheffingsprojek vir bosbouwerkers stort in duie
 
2009-03-05

Sieb Sieberhagen

DIE La Motte Bemagtigingstrust sal moet pa staan vir sy doen en late van die afgelope agt jaar.

Só eis die gemeenskap van die La Motte bosbounedersetting nadat gerugte van wanpraktyke die ronde gedoen het.

Verskeie stukke voormalige bosbougrond is in die omgewing geïdentifiseer waar die gemeenskap bemagtigingsprojekte kon doen, maar daarvan het dadels gekom.

Daar is ook groot onsekerheid oor wie werklik die trustees is, wie in die bestuur dien, of daar ’n oudit gedoen gaan word en waarom die gemeenskap nie terugvoering kry nie.

Die oudit word al vir die afgelope 3 tot 4 jaar gedoen, maar niemand weet wie dit doen nie, het een van die inwoners gesê.

Inwoners, van wie die meeste aandeelhouers van die trust is, wil ook ’n verduideliking hê oor wat van die R120 000 lening geword het wat hulle van die Hanneli Rupert Getuienistrust ontvang het.

Dié geld is gebruik om ’n ontwikkelingsplan op te stel en die leningsooreenkoms bepaal dat dié geld terugbetaalbaar is.

Bekommerde aandeelhouers van La Motte, die destydse bosbounedersetting, vrees dat die Getuienistrust nou druk op hulle kan plaas om die geld terug te kry en dat hulle nou die geld uit hulle eie sakke moet terugbetaal.

Die Bemagtigingstrust is in 2000 in die lewe geroep en die lening is in 2001 aan hulle toegestaan. Die aandeelhouers van die trust bestaan uit 87 families.

Hein Koegelenberg, woordvoerder van die Getuienistrust, sê hulle sal heel waarskynlik die geld moet afskryf: “Niemand van hulle kom terug daaroor nie. Dr Willem Steenkamp, ’n prokureur, het ons destyds genader om ’n lening te bewerkstellig om projekte van die grond af te kry waarmee die gemeenskap hulself kon ophef.

“Dit lyk nie asof daar iets gebeur nie. Die geld is seker maar uitgemors,” sê hy.

Die Jim Fouché piekniek-terrein, reg langs die Bergrivier in Groot Drakenstein, was een van terreine van die Departement Bosbou wat in die trust se sorg gelaat is om fondse te genereer. Volgens inwoners was dié terrein in ’n stadium baie gewild, maar vir die afgelope twee jaar gebeur daar niks nie. Baie vra oor hoeveel geld gemaak is, en wat daarvan geword het.

Pieter Kampher, een van die organiseerders van die trust, is van mening dat die klaers seker moet maak van hulle feite.

“Die inbetalings vir die geld wat ons ontvang het, terwyl die terrein deur ons bestuur is, is gedoen. Ons het geld gemaak. Ons het ook geld uitgegee om die skade te herstel wat vandale aangerig het.

“Nadat Safcol die bome in 2006 afgesaag het omdat dit ’n risiko vir besoekers begin inhou het, het daar nie meer veel gebeur nie. Omdat daar ook niks is om vandale buite te hou nie, is daar baie skade aangerig,” sê hy.

Lloyd Fortuin, prokureur van Faure & Faure prokureurs, sê hy het drie tot vier jaar gelede nog probeer om te help dat die trust op die been kom.

“Ek is nie meer betrokke nie. Die trust het nou heeltemal uitmekaar geval. Ek en Boy Louw van Jan S de Villiers prokureurs het nog pogings aangewend om die trust te laat werk.

“Daar is niks meer om betrokke by te bly nie. Dit is ’n resep vir disaster wanneer daar soveel mense aan ’n trust behoort,” sê hy.

Ralph Damonse, ’n konsultant wat destyds gehelp het toe die trust tot stand gekom het, sê dié gemeenskap het geen blootstelling gehad toe hulle met projekte begin het nie.

“Ek was net aan die begin betrokke om die wiel aan die rol te kry.

“Ek dink hulle het heelwat geld gemaak met die Jim Fouché terrein. Ons sal net weet wat aangaan nadat die oudit afgehandel is,” het hy gesê.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za