Projekte 'kry nie rigting nie'
2009-03-05
Sieb Sieberhagen
DRIE van die grootste plaaslike ekonomiese ontwikkelingsprojekte wat tans vir Paarl beplan word (’n glasbottelfabriek op Wellington, die beoogde Paarl Waterfront-ontwikkeling op die Parys-sportvelde, en die herontwikkeling van die sakekern), kry nie koers soos wat verwag is nie. ’n Vorderingverslag is verlede week tydens die Drakenstein burgemeesterskomitee-vergadering voorgelê en raadslede was dit eens dat daar te min vordering is. Raadslid Arthob Petersen sê: “Ons moet meer daadwerklik optree. Die publiek wil weet wat aangaan. Ons moet probeer om dit vorentoe te vat. Die sakekern-ontwikkeling is al vir vyf jaar aan die gang,” sê hy. Die hersonering van die sakekern is reeds deur die Munisipaliteit goedgekeur en die proses vir die herontwikkeling van Lady Greystraat tussen Hoof- en Versterstraat het ver gevorder. Die ontwikkeling behels die moontlike sluit van gedeeltes van Lady Greystraat en die herontwikkeling van Patriotplein met ’n inkopiesentrum in. Dr Pravine Naidoo, direkteur van strategiese dienste, sê gereelde vergaderings met belangegroepe oor die sakekernontwikkeling is aan die gang. “Ons wag sodat die konsepplan bekend gemaak kan word. Die konsultasiekomitee het ’n ander opinie oor hoe dit moet lyk en dan word die bal weer in ons baan geplaas. “Ons het hulle nou 30 dae gegee om terug te kom. Ons doen alles in ons vermoë om die planne op die tafel te kry. Ons sake is in orde,” sê hy. Charmaine Manuel, burgemeester, het voorgestel dat daar meer vollediger verslae oor beplande projekte aan die Raad voorgelê moet word. * Die Waterfront-ontwikkeling kry ook die wind van voor. Drie besware en een petisie is reeds deur die Munisipaliteit ontvang. In die verslag word aangedui dat die besware ’n impak kan hê op die ontwikkeling en dat sekere omgewingsfaktore aangespreek moet word voordat daar met die ontwikkeling begin kan word. * Die beplande AfriGlass-projek loop hom ook vas teen knelpunte soos elektrisiteitsvoorsiening en die impak wat so ’n nywerheid op die omgewing kan hê, aldus die verslag. In die Wellington nywerheidsgebied is vyf terreine geïdentifiseer waar dié glasbottelfabriek opgerig kan word.
More
News
|