Tiere trap Windmeul
2009-03-05
YOUNG PEOPLES se eerste rugbyspan het Saterdag min moeite ondervind om hul opponente, Windmeul United, met 65-7 te verslaan tydens ’n vriendskaplike kragmeting op laasgenoemde se tuisveld. Peoples se voorspelers het goeie besit aan die agterlyn verskaf en alle fasette van die wedstryd oorheers. Goeie verdediging deur die Tiere se agterlyn het veroorsaak dat Windmeul nooit hulle ritme kon vind nie. Peoples se swaar voorspelers het deurgaans hul opponente onder druk gehou en vir Windmeul swaar laat leef in die skrums. ’n Groot ligpunt van die wedstryd was die samespel van Peoples se losvoorspelers wat Windmeul se verdediging laat bontstaan het. Francois Julies en Oswill Thomas was uiteindelik die groot helde in Peoples se sege. Die Tiere het met goeie samespel en afronding teen rustyd reeds met 41-0 voorgeloop. Peoples was ’n gevoelige slag toegedien toe die senter Sam Titus sy arm gebreek het. Die Tiere het na rustyd effens momentum verloor teen die sterk wind, maar het deurgaans vir Windmeul met hul kragspel oordonder, om uiteindelik gemaklik te seëvier. Hoewel Peoples sonder heelwat van sy staatmakers moes klaarkom, was hul voorspelers, en algemene verdediging, skitterend. Die Tiere sal wil voortbou op dié vertoning vir Saterdag se wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad te Groote Schuur. In ander wedstryde het Peoples se tweede span met 17-0 gewen, terwyl die derde span met 28-10 geseëvier het. Die Tiere se o.12’s het met 10-5 gewen, die o.14’s het met 27-8 gewen en die o.16’s het met 22-19 gewen. Die bus vir Saterdag se wedstryd vertrek om 11:30 uit Groenheuwel. Die juniors speel teen Allandale op Allandale.
More
News
|