EK verwys na die foto van ’n ongelukstoneel op bladsy drie van die Paarl Post van 26 Februarie met ’n motor wat onder ’n vragmotor ingery het.
Die onderskrif lui dat die bestuurder van die Mazda voertuig “beheer verloor het nadat hy deur ’n ander voertuig gestamp is wat nie by die stopstraat gestop het nie.” As leraar weet ek dat ek ’n feilbare mens is wat ook foute kan begaan, maar om ’n stopstraat te verontagsaam druis in teen my beginsels.
Die ongeluk het gebeur terwyl ’n begrafnisstoet in Jan van Riebeeckweg stilgestaan het weens ’n opeenhoping voor.
Ek het in ’n systraat by die stop gestaan en wag, toe ’n bedagsame begrafnisganger aan my voorkeur gegee het om tussen die wagtende motors deur te ry en Jan van Riebeeckweg oor te steek.
Op daardie oomblik het ’n Mazda egter in die binnebaan die stoet verbygesteek en my motor aan die sykant getref, voordat hy die vragmotor getref het.
Ek vertrou dat hierdie weergawe sal help om net die feite te stel. Die beslissing oor reg of verkeerd berus by die Hof of Versekering.
Eerw Graham M Taff