Paarl Krieketklub verniel Koringboere
2009-03-05
PAARL KRIEKETKLUB het Saterdag vir Malmesbury op sy tuisveld met 141 lopies verniel. Paarl het eerste gaan kolf op ’n blad wat wou lyk asof dit die draaiers later sou bevoordeel. Paarl behaal ’n skaflike 198/10 nadat sy twee aanvangskolwers vroeg hul paaltjies verloor het. Franco Marais (30, 6x4) en Lee-Roy Walters (32, 3x4 en 1x6) het gesorg vir ’n vennootskap van 56 lopies om die vierde paaltjie nadat hul span gesukkel het op 44/3. Marais en Walters het hul paaltjies egter kort na mekaar verloor, en met die telling op 108/5 het dit nie gelyk of die besoekers meer as 150 lopies sou kon opstapel nie. Ultalyn Ernstzen (42, 5x4) en Lynal Jansen (27, 2x4) het egter gesorg dat hul span uiteindelik 198 lopies kon bereik. C Oosthuizen (3/5), C Don (4/24) en J Cicero (2/51) was Malmesbury se beste boulers. Die tuisspan kon net 57 lopies opstapel na goeie boulwerk deur Paarl se Rohan Goetham (3/8), Clint Philander (4/16) en Hein Adonis (2/0). Nie een van Malmesbury se kolwers kon meer as 20 lopies aanteken nie. Sondag het Paarl II (138/3) vir Malmesbury II (137/10) op sy tuisveld met 7 paaltjies geklop. D Abrahams (33, 3x4) was die tuisspan se grootste puntemaker, met die ekstras (39) wat gehelp het om Malmesbury se lopietal te verstewig. Paarl se draaiers, Alfredo Adams (3/29) en Michael Leask (4/29), het die tuisspan se kolwers se sterte behoorlik geknoop. Paarl se Courtley Pharaoh (37, 2x4 en 2x6), Curtis Fourie (22, 3x4) en Leask (49*, 8x4) besorg aan hul span ’n oorwinning in die 24ste boulbeurt. Komende naweek speel Paarl se eerste- en tweede spanne teen Vredenburg/Saldanha I en II op Vredenburg en op die Parys-velde onderskeidelik. Paarl se derde span speel weg teen Paarl-Oos se derdes. Volgende naweek hou die klub weer biefstuk-en-slaai-verkope teen R40 per bord. Kaartjies is beskikbaar by bestuurslede.
More
News
|