Paarl drukkersfirmas wen gesogte goue toekennings
2005-08-04
TWEE Paarlse firmas het uitgeblink in die derde jaarlikse Raflatac toekennings aan Wynetikette van Uitmuntendheid.
Paarl Print Lahels, die spesialis wynetiketdrukkery van die Paarl Media Groep, het die Beste Reeks Toekenning vir die drukwerk van KWV se Golden Kaan wynreeks gewen in die derde jaarlikse Raflatac Wynetikette van Uitmuntendheid toekennings.
Collotype Labels het goud en silwer opgeraap in die afdeling vir individuele etikette, met Vergelegen Estate "V" en Douglas Green Bellingham "Tall Horse".
Die toekenningseremonie was deel van die openingsfunksie van die Wyn- en Vrugteboere Uitstalling wat van 26 tot 28 Julie by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum aangebied is.
Internasionale etiketpapiervervaardiger Raflatac, met sy Suid-Afrikaanse hoofkantoor in Durban, bied die jaarlikse toekenning aan ter erkenning van die hoë standaard van Suid-Afrikaanse wynetikette. Dit geskied in twee kategorieë, naamlik die Beste Reeks en ‘n Individuele toekenning.
Volgens Raflatac SA se Besturende Direkteur, Ian Murray, bevorder die toekenning die tegniese samewerking tussen die handelsmerkeienaars, ontwerpers en etiketdrukkerye.
Hy sê dat Suid-Afrika se wynetikette van 'n baie hoë standaard is en dat die kompetisie straf was.
Paarl Print Labels het vanjaar vir die eerste keer aan dié kompetisie deelgeneem.
Volgens Rian Moore, bestuurder van Paarl Print Labels, is dit 'n baie gesogte toekenning.
“Dit is beslis vir ons ‘n pluimpie dat ons die Beste Reeks Toekenning ingepalm het. Die moeilikheidsgraad van die etikette asook die kwaliteit van die drukwerk word tydens beoordeling in ag geneem.
“Die moeilikheidsgraad betrokke by Golden Kaan etikette is betreklik hoog aangesien dit op deursigtige polipropileen gedruk word.
“Die voorste etiket bestaan boonop uit drie elemente wat vanaf die rugmateriaal gelig word om aan die voorkant van die bottel te heg.
“Die druk van hierdie etikette vereis innovering en presisie ten einde hulle perfek vir die botteleringslyn te kan lewer.”
Rian het bygevoeg dat die toekenning op 'n baie goeie tyd vir Paarl Print Labels kom.
“Ons is in die proses om ons nuwe perseel aanliggend tot die bestaande Paarl Print gebou te betrek en begin nou om ons eie identiteit as 'n gefokusde drukker van topgehalte wynetikette te vestig. Ons het onlangs die installering van ons nuwe nege-kleur MPS etiketpers voltooi."
More
News
|