Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Femme fatale op die pad

Femme fatale op die pad
 
2009-03-12


SATERDAG 7 Maart omtrent 11:00, ry ek op my gemak in die regterbaan van Jan van Riebeeck-rylaan, so 750m voor die verkeerslig en afdraai na die Paarl Mall naby die N1.

Aangesien ek regs wou afdraai, was dit dus nie sinvol om oor te skuif na die linkerbaan nie, toe daar agter my ’n blonde dame in ’n wit BMW (CJ nommerplaat) optrek, klaarblyklik ietwat ontevrede met die verkeer in haar haastige pad.

Sy het haar begryplikerwyse dan ook nie verder deur my laat vertraag nie, en het heel elegant links by my verbygetrek. Ek het op dié stadium 75 km per uur in die 80 km sone gery.

Die deftige dame moes seker na aan 100 km per uur gery het, vermoed ek. Ek sien toe die lig word geel en dan rooi, en ek stop ewe gemoedelik in die regter-afdraai strook, by die lig.

Groot was egter my verbasing toe ek sien hoe die elegante dame se motor nog spoed optel toe die lig geel word en sy met ’n ware doodsveragting haar motor deur die rooi lig boender.

Gelukkig was die kruising rustig en leeg.

Ek wonder agterna: Was sy regtig so skerp dat sy dit alles in berekening geneem het, toe sy haar voet op die pedaal gedruk het?

Het sy dit alles bereken, en afgesien van die tegniese puntjie van die rooi lig, ’n berekende lae risiko besluit geneem? Of was dit maar net ’n vorm van Russiese roulette? Die uitleef van ’n doodswens, wat later nooit as selfmoord, maar as ’n tragiese verkeersongeluk beskryf sal word?

Ek glo nie dat sy deur winsbejag kon gedryf gewees het nie, want sy het nie ’n taxi gery nie. En om 11:00 die oggend is elegante dames ook nog nugter, so ver as ek weet.

Ek sou my aan growwe vooroordeel skuldig maak as ek die gedrag aan haar blonde hare, haar motor, of haar geslag sou toeskryf.

Miskien was sy maar net in ’n bedonderde bui, ’n femme fatale wat jy nooit per ongeluk wil ontmoet, wie se pad jy nie waag om te kruis nie. Sekerlik nie op ’n verkeerskruising nie.

Gelukkig het sy die Paarl uitgery... maar ag, maar wag, sy sal ook weer terugkeer....Duck you Sucker




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za