Eerste fase van woonstelkompleks voltooi
2005-08-04
DIE eerste deeltitel-ontwikkeling in Paarl-Oos, die Mount View Sekuriteitskompleks in Klein Drakensteinweg, is verlede week deur burgemeester Herman Bailey geopen, na die voltooiing van 36 woonstelle in die eerste van drie fases.
Volgens Rashid Shaik, direkteur van Shatel, die ontwikkelaar, verskaf die projek werk aan meer as 300 mense en is daar meer as R30 miljoen in die plaaslike ekonomie spandeer.
Talle plaaslike kleinsake- en sub-kontrakteurs het, en sal, baat vind by die ontwikkeling, aangesien Shatel voorkeur gee aan hierdie tipe ondernemings.
Burgemeester Bailey het Shatel geprys vir hul groot bydrae om die behuisingstekort in die Paarl aan te spreek. Volgens Bailey is daar tans ’n behuisingskrisis in die Paarl.
Hy het ’n beroep op Shatel gedoen om voort te gaan om die plaaslike munisipaliteit behulpsaam te wees om hierdie krisis die hoof te bied. Bailey was ook beïndruk met die hoë kwaliteit van die afwerking van die eenhede in vergelyking met die prys (tans vanaf R259 000).
Die kompleks bestaan uit verskeie drieverdieping-woonstelblokke. Elke woonstel is 63,5 vierkante meter groot met ’n moderne en duursame afwerking.
Veiligheid en sekuriteit is aan die orde van die dag aangesien die ontwikkeling beskik oor ’n hoë ringmuur met beheerde toegang.
Kopa en Seuns, die kontrakteur, het hul weereens goed van hul taak gekwyt. Kwaliteit en goeie vakmanskap is aan die dag gelê.
Die kompleks is ideaal vir jong egpare en enkelouers. Die lae verkoopprys en groot huuraanvraag maak dit ook ideaal vir beleggers.
Die kompleks bied ’n pragtige uitsig oor die Klein Drakensteinberge. Vir navrae oor die tweede fase, skakel Valley Homes by 872-5286.
More
News
|