Paarliet mik na kroon
2005-08-04
’n PAARLIET, Eurica Scholtz van Windmeul, is ’n finalis in die Vroueboer van die Jaar Kompetisie in die afdeling Top Uitvoerder. Die wenner van die kompetisie word Dinsdagaand aangekondig.
Eurica bestuur die tafeldruifplaas Le Ferme Derik (voorheen Ma Lanot) omdat haar man ’n heeltydse werk elders het.
Die plaas is ongeveer ’n jaar gelede deur Hardus Otto, ’n oom van haar man, Johan, gekoop waarna hulle aandele in die maatskappy verkry het. Otto boer met mielies by Coligny, maar is saam met Johan betrokke by die finansiële bestuur van die plaas.
“Aanvanklik het ons ’n bestuurder gesoek, maar met verloop van tyd het ek besef dat ek die boerdery so geniet dat ek die bestuur oorgeneem het in Maart 2004.”
Eurica, wat kwalifikasies in verpleging, onderwys en besigheid het, het ook ’n modulêre kursus in tafeldruifbestuur voltooi aan Nietvoorbij.
Sy is baie kunstig en het verskeie kundstoekennings verwerf in Mpumalanga en het ook bekendheid verwerf vir papier wat sy uit olifantmis gemaak het (hieroor is berig op die TV-program 50/50).
Op die plaas het sy verbeterings aangebring in die boerderypraktyke om die plaas se opbrengs en koste-effektiwiteit te verhoog. Dit sluit in grond en voeding, besproeiing, snoeimetodes, kultivarbeplanning en omgewingsbewaring.
Daar word oop beoog om die werkers optimaal te benut en op te lei.
Die personeel is in drie spanne ingedeel - die Blou Bulle, Springbokke en Wallabies, wat meeding op elke gebied en hul span se kleur hoed dra.
Hulle snoei hul eie blokke, trek drade styf en doen herstelwerk aan kappe en besproeiing. Wanneer die druiwe ryp word, is dit groot kompetisie om te sien watter span se kwaliteit die beste is.
Daar word in die winter kontrakte bekom om die werkers besig te hou. Hulle word ook aangemoedig om hul eie groentetuine aan te lê. Alle inwoners van die plaas kry daagliks vitamine-aanvullings ná die oggendvergadering en godsdiens.
Benewens uitvoer word druiwe ook aan plaaslike supermarkte gelewer.
Daar word beoog om die plaas uit te bou tot ’n landgoed met ’n klein kelder om hul eie wyn te produseer, aangesien daar reeds ’n onthaalsaal is vir funksies.
More
News
|