Plase erg getref
2009-03-12
Lise Beyers
HONDERDE duisende rande se skade is op plase in Suider-Paarl aangerig, weens verlede week se verwoestende bergbrand. Op De Hoop-plaas het bykans 90% van die Clift-familie se olyfboord uitgebrand, skaars ’n maand voordat die olywe geoes sou word. Die waarde van die oes alleen is meer as ’n half miljoen rand, terwyl die vervangingswaarde van die verbrande bome en besproeiingspype nog honderde duisende rande kan beloop. Net toe dit Vrydagmiddag gelyk het asof die brand onder bedwang was, het die wind weer gedraai en die brand in die omgewing van die Taalmonument beweeg na plase in Suider-Paarl. Derek Clift van De Hoop het gesê dat die brand naby Victoriadam by die kloof afgekom het en weens die windsterkte was daar geen keer daaraan nie. “Vrydag het ons nog rustig tafeldruiwe gepak, toe chaos uitgebreek het. Die brand het deur ons olyfboord gehardloop sonder keer en bome tussen die ouderdom van 35 en 100 jaar is verwoes. Ons hele oes, die beste in baie jare, is daarmee heen. “Die brand het verder afgekom en ons pakstoor bedreig. “Dit het ook om die graniet-gruisgat gewoed en ons werkers moes hul wonings ontruim.” Verder vertel Clift dat mense uit die niet op die plaas aangekom het om die brand te help bestry. “Al die werkers van die granietwerke het hierheen gesnel, asook van die omliggende plase. ’n Paarlse vrou, Sonja Burger, het selfs by die pakstoor se dak opgeklouter om brandende blare in die geut te blus. “Mense het van so ver as Doolhof op Wellington en Paardeberg kom help. En restaurant-eienaar Mark Maingard het aanhoudend bottels yskoue water aangedra vir al die helpers.” Terwyl die Clifts tans steier onder die geweldige verlies van hul olyfboord, is hierdie jaar veronderstel om ’n feesjaar vir hulle te wees. De Hoop-plaas is vanjaar ’n halfeeu in die Clift-familie, en die historiese plaashuis is 200 jaar oud. “Ek dink persoonlik dat hierdie brand die ergste is wat die berg al getref het,” sê hy. ’n Buurman van De Hoop, David Bourbon-Leftley, het skade aan sowat twee hektaar pruimbome langs Jan Phillipsbergpad. Gelukkig is daar klaar geoes en Bourbon-Leftley hoop dat van die bome met liefdevolle aandag die slagting sal oorleef. “Vrydag het ons gesnoei aan die bome, toe die wind draai. “Ek het nog nooit gesien dat ’n brand so vinnig kan hardloop nie. Net so vinnig soos wat dit hier aangekom het, so ook was dit skielik verby.” Bourbon-Leftley was Maandagoggend druk besig om uitgebrande besproeiingspype te vervang, sodat die bome weer natgelei kan word. Nog ’n buurplaas, Houmoed van Gerard Frater, was in die gedrang en hier het 90% van die wingerd uitgebrand, asook ’n gedeelte van sy bloubessie-plantasie. “Ek skat my skade op ten minste R200 000,” het Frater gesê. Wynplase in Agter-Paarl, soos Fairview, Seidelberg en Landskroon, het voorsorgmaatreëls getref toe hulle sien dat die vlamme in hul rigting begin beweeg. Fairview se plaasbestuurder, Thys Greeff, sê dat hulle geen skade aan wingerd of infrastruktuur gely het nie: “Al die werkers in die omgewing het saamgewerk om brandpaaie te maak tussen die fynbos en die wingerd. “Hier op Fairview hou ons die wingerd onkruid-vry, en dit het ook gehelp dat vonke van die vuur wat hier beland het, nie die wingerd aan die brand gesteek het nie. “Na hierdie nuutste brand gaan ons werk maak daarvan om die hange van hierdie kant van die berg skoon te maak van indringerbome. “Dit is juis hierdie bome wat verantwoordelik is vir so ’n verwoestende brand.” * Farmers in Paarl South were hard hit by the recent fire.
More
News
|