Brand knou die Paarl
2009-03-12
Lise Beyers
BOSBEWONERS het waarskynlik die verwoestende brand wat die Paarl verlede week vir vier dae lank in ’n angswekkende greep gehad het, veroorsaak. Die beraamde koste van die helikopters wat die brand help bestry het, beloop meer as R2 miljoen, waarvoor die belastingbetaler nou sal moet opdok. Die brand het Woensdagaand omstreeks 21:00 uitgebreek in ’n kloof agter die Voortrekker-spankamers in Sentraal-Paarl. Inwoners kla al ’n geruime tyd by die Munisipaliteit oor bosbewoners wat hier amok maak en mors. Dit is dieselfde gebied waar die Munisipaliteit ’n paar jaar gelede indringerbome uitgekap het, maar later die stryd gewonne gegee het. Die takke en stompe is daar gelaat weens die koste en om erosie te bestry. Woensdagaand het inwoners opgelet dat ’n rooi skynsel tussen die bome gloei en die brandweer is in kennis gestel. Die brand was vermoedelik afkomstig van ’n bosslaper se vuur en het vinnig deur die bome versprei en uitgebrei tot ’n massiewe vuurpoel. Van die dennebome, tot so hoog as 20 meter, het in die versengende hitte in vlamme ontplof met geluide soos geweerskote. Brandweerwaens is onmiddellik na die toneel toe, asook na die bokant van die brand via Jan Phillips-bergpad. Toegang na die gebied is vertraag weens ’n geslote hek na die munisipale brandpad wat hier teen die hange van die berg oploop. Tien minute het verlore gegaan terwyl die hek afgeruk moes word. Die brandweerwaens het ook gesukkel om teen die steil grondpad uit te ry. Brandbestryders het intussen van bo Jan Phillips-bergpad te voet na die toneel gesnel om die vlamme te probeer keer, maar weens die uiters warm, droë omstandighede, het dit baie vinnig in ’n wegholbrand ontaard. Deur die nag het die brand teen die kloof uitgehardloop en buite beheer oor Jan Phillips-bergpad gespring na die kruin van die berg. Hiér was dit nou heeltemal buite beheer en het in ’n suidelike rigting beweeg. Donderdagoggend was dit chaos op die berg en die hulp van helikopters is ingeroep om die vlamme te probeer blus, wat al hoe nader aan huise teen die hange beweeg het. Die wind het aanhou rigting verander, en waar daar geblus is, het dit eenvoudig weer in die teenoorgestelde rigting vlam gevat. Inwoners van verskeie wonings het besluit om ’n handjievol waardevolle besittings te neem en die pad te vat, terwyl ’n paar ander sak-en-pak hul wonings verlaat het. Teen Donderdagmiddag was die westekant van die Paarl bedek met ’n dik, verstikkende rookwolk en as het soos kapok uit die lug geval. En om alles te kroon, het die temperatuur in die Paarl gestyg tot ’n moordende 46 grade. Maar deur al die drama, het inwoners van die Paarl soos een man saamgestaan om die verwoestende brand te help bekamp. Buurman het buurman gehelp om vlamme in mekaar se agterplase dood te slaan, huise te ontruim, en selfs net ’n lafenis aan te dra. Toe dit Vrydagoggend lyk asof die brand begin bedaar het, het die wind egter weer die smeulende kole aangehits. Chaos het geheers om die Taalmonument, en die vlamme het hier teen die hange van die berg afgeloop na die plase. Talle hektaar wingerd, vrugtebome en olywe het in die slag gebly. By Proteahoogte-plaas in Suider-Paarl moes vyf perde inderhaas ontruim word, soos wat die brand al hoe nader aan die stalle beweeg het. Later die dag het die brand noordwaarts beweeg, en die digte dennewoud agter Lemoenkloof en Groenvlei het aan die brand geslaan. Saterdag was die ergste verby, maar brande het steeds hier en daar opgevlam soos wat die wind sterker begin waai het. Uiteindelik het dinge eers Sondagmiddag tot bedaring gekom, maar deur die week het Paarlberg steeds gesmeul. Sowat 4000 hektaar van die berggronde is verwoes. Die afgebrande uitheemse bome sal afgekap moet word teen aansienlike koste. * The devastating fire which raged on Paarl Mountain for four days is thought to have been started by vagrants living on the lower slopes of the mountain. About 4000 hectares of the mountain vegetation was destroyed.
More
News
|