Maltrap musici
2009-03-12
DIE bekroonde Stok se maltrap musici wat gehore sedert 2002 vermaak en verstom, is vanaf 12 tot 14 Maart om 20:15 by die Oude Libertas Amfiteater te sien in Alles op ’n stok, met Jahn Beukes, Leon Ecroignard, Nic Huddy, Riku Lätti en Antony Coleman. Hulle toor met klank, fisieke mannewales, toneelspel en by uitstek, musiek. Die manne het nog altyd sonder ’n regisseur hulle toertjies aanmekaargesit, maar hierdie keer wou hulle ’n oog van buite ’n paar eiers laat lê. Só het die bekroonde Ilse van Hemert betrokke geraak. Sy het die storie rigting gegee en die manne hier en daar ’n bietjie in toom gehou, maar net genoeg om nie die spontane aard van die skeppingsproses aan bande te lê nie. Jahn Beukes, wie se perkussie-vaardighede aan dramagehore bekend gestel is met Uit die Bloute onder regie van Van Hemert, span vir die eerste keer sedertdien weer met haar saam. Leon sal onthou word vir Suig saam met Gys de Villiers en vir sy begeleiding van Laurika Rauch. Riku Lätti is een van ons land se voorste musikante en in Alles op ’n Stok sien ons nog ’n faset van hierdie begaafde musikant. Nic Huddy, sanger en verwerker van formaat, is die vierde lid van die ensemble. Die vyfde lid is nie net ’n goeie musikant nie, maar eintlik meer bekend as akteur Antony Coleman van Snitch en Blood Diamonds-faam en speel die rol van Floors - ’n man wat op die afgrond van verslaendheid besluit om te gaan soek na die geheim van die lewe. Hy kom op ’n boek af, “Die Volle Geskiedenis van Alles”, en begin dit naarstigtelik lees. Die boek moet sekerlik een van die merkwaardigste geskrifte wees wat ooit ontdek is. Ten spyte van die groot twis wat onder geleerdes heers rondom wie nou eintlik die epiese verhaal geskryf het, is daar geen twyfel oor die feit dat die boek niks met sy titel uit te waai het nie. En tog is Floors oortuig dat daar iets in die boek verskuil is; ’n geheim so gevaarlik dat dit alles kan verander. En dan, byna aan die einde van die boek, op die drumpel van die waarheid, blaai Floors om… Alles op ’n Stok het resensente en gehore tydens die jongste Aardklop opmerkings laat maak soos: “Dis die meeste pret wat ek die laaste vyf jaar met my klere aan gehad het. “As jy net een show by die fees kan sien, gaan sien Alles op ’n Stok, die manne se musikaliteit verstom en die wyse waarop die storie en musiek mekaar ondersteun en aanvul is briljant, skreeusnaaks en mallerig, maar hulle veelsydigheid is ongelooflik, maak die leisels van jou brein los en gee jou verbeelding vrye teuels dan sal jy mal wees oor Alles op ’n Stok.” Kaartjies kos tussen R90 en R110. Besprekings kan by Computicket of die Oude Libertas kaartjiekantoor by 021-809-7473 of 021-809-7380 gedoen word of besoek www.oudelibertasamphitheatre.co.za.
More
News
|