Ouetehuis spog met verkoelers
2009-03-12
DIE Rusthof-ouetehuis in Paarl-Oos spog met drie splinternuwe lugverkoelers in hul leefarea. Die ouetehuis het 106 inwoners en almal is verskriklik dankbaar vir die lafenis wat dit verskaf met die voortdurende hittegolwe in die vallei. Volgens Alvira Kleinhans, bestuurder van Rusthof, het hulle ’n skenking van R15 000 van Paarlse sakeman, wyle Johnny Smook, ontvang voor sy dood. “Ons het die behoefte van lugverkoelers geïdentifiseer, omdat dit verskriklik warm raak hier in die somer en verskriklik koud in die winter.” ’n Lugverkoelingsmaatskappy, Direct Air, het dit moontlik gemaak dat die verkoelers teen kosprys aangekoop kon word. Rusthof was toe net verantwoordelik om ’n ekstra R5 000 in te samel vir die lugverkoelers. Kleinhans het gesê hulle het verlede jaar reeds begin met die Adopt a-Room-projek om meer gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder en só ook die kamers van die inwoners mooi te maak. “Ons het ’n baie positiewe reaksie gekry vanaf kerke, organisasies, besighede en individue. Ons kon reeds ’n hele paar veranderinge aanbring en dit meer leefbaar vir die inwoners maak.” Volgens Kleinhans het hulle ook hul verouderde waterverhittingstelsel vervang omdat dit amper onmoontlik was om die onderdele in die hande te kry. Hulle het ook elke maand bykans R12 000 op diesel uitgegee om dit aan die gang te hou. “Ons het nou sonpanele laat insit om deur middel van die son krag op te wek wat ’n groot besparing teweeg sal bring op ons uitgawes elke maand. Dit is befonds deur die Departement Maatskaplike Ontwikkeling.” Rusthof het ook ’n verhouding met verskeie rugbyklubs en skole in die Paarl en was gereeld hul sporttruie teen ’n minimale bedrag. “Die skole en rugbyklubs ondersteun dan weer op hul beurt ons funksies,” het Kleinhans gesê. Rusthof lewer ook ’n gratis gemeenskapsgebaseerde tuisversorgingsdiens en help enigeen van enige ouderdom wat van hul dienste wil gebruik maak. “Ons help enigeen wat deur die Departement van Gesondheid ondersteun word. Mense kan ons kontak as hulle weet van iemand wat siek is en ons hulp nodig het. “Die diens sluit ook in die afhaal van medikasie by die hospitaal. Die grootste behoefte wat die ouetehuis nou het, is om ’n voertuig te verkry om die vervoer van bejaardes, veral mense in rolstoele en verswaktes, te vergemaklik. Die inwoners moet na hospitale, funksies en ander aktiwiteite vervoer word. Hulle beoog ook om die gebou se aansig te verbeter deur ’n muur op die grens te bou waar tans ’n heining is. “Ons kan met trots sê dat ons die afgelope drie jaar baie positiewe en goeie ondersteuning van die gemeenskap ontvang het.” Sy het vir Sophie Barnard (van die NGK Paarlvallei), besighede, kerke, skole, sportklubs en individue hartlik bedank vir alles wat hulle so ver vir hulle gedoen het (Kontak 862-2230/8 of rusthof@telkomsa.net).
More
News
|