Evergreens klop Vineyards
2009-03-12
IN ’n opwindende rugbywedstryd het Evergreens Rugbyklub (Agter-Paarl) Saterdag daarin geslaag om ’n begeesterde Vineyards-span naelskraap met 14-13 te klop. In die eerste helfte het Vineyards met skitterende voor- en agterspel vorendag gekom om ’n voorsprong van 13-0 te geniet. Evergreens se linkervleuel Samuel (Kallie) Jacobs het egter net voor rustyd ’n drie aangeteken, wat verdoel was deur Neil Julies (losskakel), om die rustydtelling 13-7 te maak. Die tweede helfte het weereens skitterende hardlooprugby van beide kante opgelewer. Vineyards kon egter geen verdere punte aanteken nie. Jeremy van Rooyen (slot) van Evergreens het uiteindelik ’n drie aangeteken wat weereens verdoel was deur Neil Julies (losskakel), om die eindtelling 14-13 te maak. Evergreens speel eerskomende Saterdag teen Young Peoples op die Boy Louw-velde.
More
News
|