Nuwe intrekkers in Lady Greystraat?
2009-03-12
Sieb Sieberhagen
DIT is amper ’n uitgemaakte saak dat die ou gebou van British American Tobacco aan die onderpunt van Lady Greystraat eersdaags nuwe intrekkers gaan hê en dat 2000 nuwe werksgeleenthede vir Paarl geskep gaan word. Teletech Inc, ’n Amerikaanse onderneming wat spesialiseer in oproepsentrums, is tans met die Drakenstein Munisipaliteit in onderhandeling om só ’n sentrum in Paarl te vestig. Onder hulle kliënte tel Microsoft en Dell. Tydens verlede week se burgemeesterskomitee-vergadering het verteenwoordigers van Teletech ’n voorlegging gedoen. Alle aanduidings is dat Teletech, wat tans ’n sentrum in Observatory in Kaapstad bedryf, moontlik sy onderneming na Paarl wil uitbrei. Dit kan 2000 permanente en ander tydelike werksgeleenthede skep. Charmaine Manuel, burgemeester van Drakenstein, het die voorlegging gesteun. “Ons moet alles in ons vermoë doen om só ’n geleentheid nie te laat verbygaan om soveel werksgeleenthede vir Paarl te skep nie. Dit is baie positief,” sê sy. Die burgemeesterskomitee het besluit om ’n spesiale taakspan saam te stel om Teletech te adviseer oor bouregulasies en om die aansoek te bespoedig. ’n Woordvoerder van Teletech wou geen kommentaar lewer alvorens die munisipale formaliteite afgehandel is nie. * An American call centre company hopes to buy the building formerly occupied by British American Tobacco in Lady Grey Street, Paarl.
More
News
|