Twee sal oud word in tronk
2005-03-17
TWEE jong mans wat ’n weduwee in haar kothuis op ’n plaas in Daljosafat vermoor het, sal oud word in die tronk nadat hulle elkeen tot 40 jaar agter tralies gevonnis is.
Sheila Stander (65) is deur die inbrekers vermoor kort nadat sy Paassondag twee jaar gelede op haar skoonseun se boegoeplaas Waterval tuisgekom het.
Die bejaarde vrou is met toue vasgebind, verkrag en verwurg. Haar lyk is onder ’n duvet in haar slaapkamer versteek.
Volgens regter Jeanette Traverso “sal woorde nooit kan beskryf hoe wreed sy gesterf het nie.”
Die woning is in chaos gevind deur ’n sekuriteitswag wat die Maandagoggend ondersoek ingestel het nadat plaaswerkers onraad vermoed het.
Michael Donkiri en Gerswin Pietersen is skuldig bevind aan moord, verkragting, onsedelike aanranding, huisbraak, roof en poging tot motordiefstal.
Wilhelm Ross en Phumzile Tondiswa is aan inbraak, roof en poging tot motordiefstal skuldig bevind en elk tot effektief vyf jaar tronkstraf gevonnis.Lukas Donkiri is weens onvoldoende getuienis vrygespreek.
Die beskuldigdes is nou tussen 19 en 20 jaar oud en het tydens die moord op buurplase en in die Fairyland plakkerskamp gewoon. Hulle het almal weens vorige huisbraak- en diefstalklagtes met die gereg gebots.
Die aanvallers het die nag te voet met hul buit uit die weduwee se woning gevlug toe hulle nie die motor aangeskakel kon kry nie.
Hulle is kort daarna in die nabygeleë plakkerskampe in hegtenis geneem nadat hulle van die huisware verkoop het. Hulle het ook nog van haar juweliersware en kombuismesse in hul besit gehad.
* Two young men have been sentenced to 40 years for the murder of a Paarl woman.
More
News
|