Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nyweraars boos oor plakkers

Nyweraars boos oor plakkers
 
2009-03-19

Sieb Sieberhagen

PAARLSE nyweraars is diep bekommerd oor die beoogde vestiging van 92 plakkersgesinne op hul voorstoep in Drommedarisstraat, Daljosafat.

’n Vergadering om met dié nyweraars te konsulteer, is onlangs deur dr Sidima Kabanyane, munisipale bestuurder van Drakenstein, gehou.

Paarl Post is toe deur die Munisipaliteit versoek om die vergadering te verlaat, hoewel van die nyweraars versoek het dat die media die vergadering moes bywoon.

Verskeie van die sakelui het tydens die vergadering sterk te velde getrek teen dié hervestigingsbesluit.

Die feit dat die Munisipaliteit ook nie kan sê presies hoe lank die plakkers hulle bure gaan wees nie, het hulle verder omgekrap.

Kabanyane het ná die vergadering aangedui dat die besetting een tot twee jaar sal duur.

“As die plakkers eers hier is, is dit moeilik om hulle uit te kry,” sê een van die ontstoke nyweraars.

“Wat dit op die ou einde beteken is dat ons grond se waarde sal daal, dat diefstal sal toeneem en dat ons versekeringspremies sal styg. Ek wonder of die munisipaliteit ons daarvoor gaan kompenseer.

“Al waaroor die kamstige konsultasievergadering gegaan het, was om ons in te lig dat dit wel gaan gebeur.

“Dr Kabanyane het nogal tydens die vergadering gesê dat dit net goeie maniere is om ons in te lig. Hulle kan nie vir ons sê tot wanneer die besetting gaan plaasvind nie,” sê een van die aanwesiges.

Dié sakelui dreig nou selfs om ’n trustrekening te skep sodat hulle hul belasting daarin kan inbetaal, totdat die aangeleentheid besleg kan word.

Volgens die munisipaliteit word dié verskuiwing genoodsaak deur ’n brand wat in Oktober in die OR Tambo informele area (Swartbergstraat) ontstaan het. ’n Eskom kraglyn is erg beskadig en moes buite werking gestel word vir veiligheidsredes.

“Die feit dat die lyn buite werking is, veroorsaak groot verliese vir Eskom en belemmer hul kragtoevoer na die dorp, maar veral na naburige dorpe,” sê Kabanyane.

“Die area waar die mense tans woon, is ’n serwituut wat hulle in elke val nie mag bewoon nie.

“Maar omdat die Drommedaris-woongebied tans ontwikkel word, kon die munisipaliteit nie die mense net “verwyder” nie. Die Wet laat ons nie toe om so onmenslik op te tree nie.

“Weens die feit dat die Raad besef dat Eskom hul kragtoevoer sal moet herstel, gegee die naderende winterseisoen, is daar besluit om die mense te skuif na ’n gepaste erf waar die daarstelling van basiese dienste spoedig aangespreek kan word.

“Trouens, Eskom het ons met litigasie gedreig. Die ingenieursdepartement het onmiddellik begin grond soek en het toe met die voorstel gekom om die mense tydelik (een tot twee jaar) op erf 584 te plaas - hulle sal na die nuwe Drommedarisgebied verskuif word, waarvan die siviele werke binnekort voltooi sal wees, sodat die bou van huise spoedig kan begin.

“Eskom het ons tot die einde April gegee om die verskuiwings te implementeer. Indien ons nie ag slaan op die datum nie, sal litigasie volg wat die Raad groot somme geld kan kos,” sê Kabanyane.

Gerhard van Schalkwyk, een van die nyweraars, sê hulle is eers twee dae voor die vergadering daaroor ingelig.

“Dit is op ’n Vrydagmiddag, die dag waarop ons lone betaal en dit is dan moeilik om vergaderings by te woon.”

Skynbaar is twintig nyweraars oor dié vergadering per brief laat weet. Sowat die helfte het dit bygewoon.

* Volgens een van die nyweraars vestig hulle nou hul hoop op die oorname van die stadsraad deur die DA-koalisie.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za