Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland Krieket se grondwet bevraagteken

Boland Krieket se grondwet bevraagteken
 
2005-08-04


’n TWISPUNT rakende die grondwet van die Boland Krieketraad het daartoe gelei dat die presidentsverkiesing tydens die onlangse algemene jaarvergadering uitgestel moes word.

Verteenwoordigers by die vergadering was almal verras toe Henry Paulse genomineer is as president vir die Boland Krieketraad.

Paulse het twee jaar gelede op dramatiese wyse besluit om homself nie weer verkiesbaar te stel as president van dié provinsie nie.

Sy besluit was die uitvoer van ’n belofte wat hy vroeër aan die krieketklubs gemaak het, om aan die hoof van Boland te staan tot ná afloop van die 2003 Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika.

Dr Peter Cyster, voorheen die visepresident, is toe in sy plek verkies, terwyl Peter Ingwersen as vise-president verkies is.

Tydens verlede jaar se jaarvergadering is daar besluit om ere-lidmaatskap aan Paulse toe te ken vir die goeie werk wat hy vir krieket in die Boland gedoen het.

Paulse se nominasie as president, wat ’n paar weke gelede deur die Vredenburg/Saldanha Krieketklub ingedien is, is nie deur die dagbestuur aanvaar nie, aangesien die grondwet bepaal dat ’n ere-lid nie weer in ’n uitvoerende posisie verkies kan word nie.

Paulse het egter tydens die vergadering aangevoer dat daar geen amptelike rekord bestaan dat die huidige grondwet ooit aanvaar is nie en dat volgens die vorige grondwet, wat dus nog geldig is, hy verkiesbaar is.

“Dit is ’n administratiewe fout,” het Ingwersen vandeesweek verduidelik. “Die grondwet is destyds verander, maar om een of ander rede is dit nooit formeel aanvaar nie.”

Die debat het die vergadering oorheers. Daar is besluit om die presidentverkiesing uit te stel om die grondwet-kwessie eers op te klaar.

Boonop het klubverteenwoordigers nie ’n mandaat gehad om vir ’n president te stem nie, aangesien die uitvoerende bestuur die klubs vooraf per brief in kennis gestel dat Cyster onbestrede herverkies is as president.

Volgens Simon Hugo, voorsitter van die Boland Skeidsregtersvereniging, het dié vereniging wel sy grondwet aangepas by die nuwe grondwet van die Boland Krieketraad.

“Die nuwe grondwet is verlede seisoen tydens ’n werkswinkel met die klubs bespreek. Daar sou ’n grondwet-vergadering gewees het, waar dit amptelik goedgekeur sou word.”

“Die Boland Skeidsregtersvereniging het wel ’n grondwet-vergadering gehou waar hy sy eie grondwet aangepas het.”

Dit blyk dat Boland se hoof-uitvoerende beampte, Pietie Williams, onder ’n wanindruk verkeer het dat die grondwet reeds tydens die werkswinkel amptelik goedgekeur is.

Volgens Ingwersen is die wysigings aan die grondwet intussen aan die klubs gesirkuleer.

“Die klubs sal die gewysigde grondwet op die vergadering van 19 Augustus kan goedkeur, waarna die president verkies kan word,” het hy verduidelik.

Interpretasieverskille rondom die getal ere-lede sal dan ook uitgeklaar word.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za