Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Oorrompel: HJS sak swaar teen Gimmies

Oorrompel: HJS sak swaar teen Gimmies
 
2005-08-04


DIE brute krag van sy pak voorspelers het Saterdag grootliks daartoe bygedra dat Paarl Gim vir Boishaai 22-10 kon klop in hul jaarlikse interskole-kragmeting.

Hoewel hulle min antwoorde gehad op die kwaliteit van die Gimmies se voorhoede, het die Boishaaiers verbete teruggeveg.

Die Gim-ondersteuners is sommer binne die eerste minute tot stilte gedwing toe die HJS-heelagter, Llewellyn Adonis, blitsig in die agterlyn insny, die Gim-verdediging aan bande lê en oorduik vir ’n drie.

Die Boishaaiers se gejubel was egter van korte duur, toe skeidsregter JC Fortuin hulle teruggeroep het vir ’n skrum ná ’n vorentoe-aangee deur die Bloutruie.

Ten spyte van hul oorheersing voorlangs kon Gimnasium eers in die 24ste minuut van die eerste helfte punte op die bord kry.

Die Gim heelagter Nico van Rensburg het vroeër ’n paar geleenthede gehad om na die pale te mik, maar kon nie die kol vind nie.

Terselfdertyd is Boishaai se Conrad Hoffmann (skrumskakel) die kans gegun om van net binne Gim se helfte na die pale te mik.

Sy skop was egter kort en dit was eers toe Gim se losskakel, André Kemp, ’n parmantige skepskop deur die pale gestuur het, dat die Gimmiers kon feesvier.

Hoffmann, wat vanjaar ook vir die WP Cravenweek-span uitgedraf het, het elke truuk in die boek uitgehaal om die druk op sy span te probeer verlig.

Hy het dan ook gereeld met skopskoen van agter ’n sukkelende pak die kantlyn probeer opsoek.

Sake in die agterlyn was egter baie gelykop, hoewel die Gimmies heelwat meer geleenthede gehad het danksy hul hoë persentasie besit.

Albei spanne kan opreg trots voel op hul verdediging, met elke speler wat met hand en tand ingeklim het om te keer.

Kort voor rustyd het die Gimmies se druk egter vrugte afgewerp.
Die Boishaaiers was op die aanval en die losskakel, Henrico Isaacs, kry die bal. Met soveel agterlynspelers wat in die losgemale ingetrek is, beland Isaacs se oorgee-aangee in niemandsland.

Die bal word deur Gim se Jacques Meyer opgepik en hy lê rieme neer en druk in die hoek om Gim ’n rustyd-voorsprong van 8-0 te gee.

Halfpad deur die tweede helfte het die aanvoeling van Gim se skrumskakel, Dewaldt Duvenage, ook vir hom ’n drie besorg.

HJS agsteman, Zandré Jordaan, tel die bal vanuit ’n skrum op en gee ’n opskiet-aangee aan Hoffmann. Duvenage lees egter die opset blitsig en sny tussen die twee deur en hardloop al die pad pale toe.

Mens sou dink dat ’n 15-0 agterstand swaar op die Boishaaiers se skouers sou weeg, maar hulle het bly terugveg en is kort daarna beloon.

Hoffmann neem ’n vinnige tikskoppie vanaf ’n strafskop net buite Gim se kwartgebied. Hy ontduik ’n paar verdedigers en stuur vir Jan-Louw Herholdt (vleuel) weg om te druk.

Ná ’n suksesvolle doelskop speel die Boishaaiers met nuwe ywer en kort daarna krimp Gim se voorsprong verder toe Hoffmann met ’n strafskop slaag.

Gim weier egter om bes te gee en in die doodsnikke van die wedstryd steel hul slot, Hendrik Brand, die bal in ’n losskrum, en gee uit vir Duvenage wat die agterlyn wegstuur.

Meyer kry weer die bal, maar met die kantlyn wat aan sy regterkant wink, moet hy weer terugskiet binnetoe. Hy ontwyk ’n paar Boishaai-laagvatte en duik oor vir sy tweede drie.

Terwyl Van Rensburg se doelskop deur die mikke trek, blaas die eindfluitjie en ontplof die stadion in ’n juigende Gimmie-massa, terwyl die Boishaaiers met hangende skouers van die veld stap.

Gim se o.19B (17-12), o.16A (7-6) en o.14A (8-6) spanne het ook almal gewen. HJS se o.15A het 13-12 geseëvier. Gim het die o.19A meisiehokkie (2-1), seunshokkie (3-1) en netbal (20-17) ook gewen.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za