AK47 verkoop ná roof
2009-03-19
Lise Beyers
DAAR is verlede week in Wellington op ’n AK47 aanvalsgeweer beslag gelê wat vermoedelik onlangs deur diewe gebruik is tydens ’n gewaagde transito-roof naby Malmesbury. Die rowers het ’n voertuig van Coin Sekuriteit aangeval op die pad tussen Malmesbury en Riebeek-Kasteel. Hulle het losgetrek op die voertuig en die bestuurder gewond. Daarna het hulle in ’n wit Toyota Corolla met die kontant weggejaag in die rigting van Wellington. Die voertuig is later verlate in Bainskloofpas gevind, maar daar was geen teken van die voortvlugtiges nie. Intussen het persone wat in die omliggende berge hout gekap het, op die verlate AK47 afgekom en dit verkoop aan ’n persoon wat in Versaillesstraat woonagtig is. Nadat die polisie hierdie inligting ontvang het van ’n lid van die publiek, het hulle toegeslaan op die woning in Versaillesstraat. Hulle het afgekom op die vuurwapen, asook ’n aantal strooitjies Tik. Foota Thyse en Tino Granger is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, asook dwelms. Hulle word nie verbind met die transito-roof nie. Die transito-rower is nog nie in hegtenis geneem nie. * An AK47 rifle which was allegedly used in a cash-in-transit robbery near Malmesbury, was found and sold in Wellington.
More
News
|