SESTIG jongmense vanuit Paarl-Oos het Maandagoggend na Tokai in Kaapstad vertrek om ’n jeugkamp by te woon wat waarskynlik hul lewens sal verander.
Hierdie jeugdiges is deel van ’n groep van 300 jongmense tussen die ouderdomme van 14 en 18 jaar, wat vanuit probleemareas in Paarl, Bonteheuwel, Delft, Mitchell’s Plain en Nyanga afkomstig is. Baie van hulle het óf vantevore met die gereg gebots, óf hulle was op pad daarheen.
Hierdie jeugontwikkelingskamp is aangebied deur die Chrysalis Academy wat bekend is vir hulle werk onder jeugdiges. Dit is veral daarop gemik om jeugdiges wat ’n hoë risiko loop om in misdaad te verval, op te hef. Deur jeugontwikkeling word gemeenskapswaardes by hulle ontwikkel en hul houding teenoor die lewe word in die algeheel opgehef.
Hierdeur bereik hulle persoonlike groei deur opleiding. Dit lei ook tot ekonomiese, morele en spirituele bemagtiging. En die opleiding hou nie hier op nie. Wanneer hulle terug keer huis toe, word hulle deur verskeie partye gemonitor. Hulle word ook bemoedig om terug te keer skool toe en hulp word aan hulle verleen om hiervoor die korrekte prosedures te volg.
Die jeugdiges word aangemoedig om die kennis wat hulle tydens die kamp opdoen, oor te dra aan ander jeugdiges in hulle gebiede, en sodoende ’n steunpilaar te word vir die gemeenskap.