Seun sterf soos pa
2009-03-19
Lise Beyers
’n VROU van Paarl-Oos moes vir die tweede keer in drie jaar ’n geliefde aan die dood afstaan weens ’n tref-en-trap voorval. In 2006 het Linda Jantjies die nuus ontvang dat haar man, Conroy, deur ’n vragmotor doodgery is in Folkert de Vriesstraat, Langvlei. Die voorval het skaars 100 tree vanaf hul huis in Curlewisstraat plaasgevind. Vandeesweek is die doodstyding weereens aan Linda oorgedra, nadat haar seun Curt (11) in Klein Drakensteinweg doodgery is. Curt se ouma, Eilleen Damon by wie die gesin tuis gaan, het vertel dat hy Maandagmiddag by die huis gekom het, en om een of ander rede het hy sy nagklere aangetrek en op die rusbank gaan lê. “Later die middag het twee van sy maatjies hiér aangekom en gevra dat hy moet saamstap na die Rug Superrette. “Kort hierna het iemand vir my kom vertel dat my kleinkind deur ’n motor getref is toe hy op pad huis toe was. Met my aankoms op die toneel mag ek nie naby hom gekom het nie. Ek wou net weet of hy baie seer gekry het. “Ek het ’n entjie weg gestaan en ek het toe die gewaad van twee wit duiwe sien vlieg bo-kant waar Curt in sy nagkleertjies gelê het. Ek het toe geweet dat hy van ons weggeneem is.” Curt is volgens ooggetuies deur die motor teen ’n hoë spoed getref. Omstanders, insluitend skoolvriende van hom, moes toekyk hoe die jong seun meters ver deur die lug trek, en toe met sy kop eerste teen die middelmannetjie te lande kom. Die bestuurder van die voertuig het versuim om op die toneel stil te hou, maar later die aand het ’n man by die Paarl-Oos polisiestasie aangemeld met sy wit Mercedez Benz, en beken dat sy sewentienjarige seun met dié voertuig vir Curt getref het. Die bestuurder van Grebestraat was glo so geskok deur die voorval dat hy dadelik huis toe gejaag het. Hy is in die hospitaal weens skok opgeneem. Curt was ’n kranige leerder en rugbyspeler van Ebenezer Primêr. Hy is ’n klipgooi van sy skool deur die motor getref. Dinsdagoggend was die skool in rou gedompel toe die skoolhoof, Freddie Matthee, leerders en personeel in kennis gestel het van die tragiese voorval. “Die dood het vandag by ons venster ingeklim,” vertel Matthee. “Ons is al baie jare bekommerd oor ons kinders se veiligheid wanneer hulle die besige Klein Drakensteinweg moet oorsteek. “Hier is wel ’n voetoorgang voor ons skool, maar dikwels ignoreer bestuurders dit, selfs wanneer die skolierpatrollie aan diens is. Die nabye spoedkamera word ook geïgnoreer deur padverbruikers. “’n Paar jaar gelede is ’n graad twee kind getref terwyl sy die voetoorgang gebruik het. Sy was vir dae lank in ’n koma. “Ons het al verskeie versoeke aan die Munisipaliteit gerig, maar daar word net aan ons gesê dat hierdie pad ’n provinsiale pad is en hulle kan niks daaromtrent doen nie.” Curt word Saterdag om 10:00 begrawe vanaf die huis in Curlewisstraat 28, en om 11:00 by die Annunciation Kerk in Rose-Innesstraat. * A young boy from Paarl East died in a hit-and-run incident in Klein Drakenstein Road involving an under-age driver.
More
News
|