Rugbyklubs slaags in vriendskaplike wedstryde
2009-03-19
IN ’n opwindende rugbywedstryd wat plaasgevind het op Gardens Park, het Peoples daarin geslaag om Evergreens in die laaste vyf minute van die wedstryd te troef. Die eerste helfte het uitstekende hardlooprugby opgelewer, en as gevolg van swak verdediging deur Evergreens kon Peoples twee drieë druk waarvan een verdoel was, om die telling 12-0 te maak. Evergreens se losskakel Neil Jacobs het egter kort voor rustyd met twee strafskoppe geslaag om die rustydtelling 12-6 te maak. In die tweede helfte het Evergreens se heelagter Adrian (Dean) Jacobs en die agtsteman Jason Malgas, drieë aangeteken, met Jacobs wat met een doelskop geslaag het. Peoples het egter in die laaste vyf minute verwoed aangeval en ’n verdoelde drie gedruk om te seëvier met 19-18. * Saterdag speel Evergreens teen Albions op die Boy Louw-velde. * Young Peoples speel Saterdag teen Abbotsdale op Faurestraat-stadion. Wedstryde begin om 12:00. * In ’n vriendskaplike wedstryd wat verlede Vrydag op Pelikaanpark beslis is, het Young Standards vir Hillcrest United met 17-14 geklop. Standards se voorspelers het goed vertoon, met Ashwell Williams, Keenan Abrahams en Dean Hendricks wat veral hul hande in dié afdeling van die spel opgesteek het. Agterlangs was Standards se groot amok-makers Hennie Johnson, Owen Timmie en Emelio Brown. Standards se tweede span het hul opponente met 35-7 afgeransel. Saterdag speel Standards in ’n wegwedstryd teen Silverleafs van Elsiesrivier. Die bus vertrek om 11:00 vanaf die ou polisiestasie in Paarl-Oos. * Riverstones se eerste rugbyspan het Saterdag relatief gemaklik, met 34-26, afgereken met Temperance op Gouda. Riverstones het eerste punte behaal toe die vleuel Devan Barnes ’n drie afgerond het wat mooi deur die agterspelers se hande gespeel is. Temperance het kort hierna teruggeantwoord met ’n drie en ’n doelskop, maar dit het vir Riverstones net aangemoedig om op alle silinders te vuur. Met Riverstones se voorspelers wat harde werk ingesit het, kon die agterspelers lekker baljaar met die bal. Jeremy van Neel was die man wat die grootste geglimlag het oor die voorspelers se inklimspel aangesien hy na afloop van die wedstryd kon spog met ’n driekuns aan drieë. Chris Mauwers en Garth Paulse het elk ook gaan druk, met Gershwin Paulse wat met twee doelskoppe geslaag het. Riverstones se tweede span het met 12-15 vasgeval. Riverstones se eerste span het onlangs puik gevaar toe hulle United Stones se rugbytoernooi gewen het op Daljosafat Primêr se velde en sodoende R1000 ingepalm het. Riverstones speel Saterdag weg teen Blue Stars op Klapmuts. Die bus vertrek om 12:00 en die koste is R15. Die klub hou Saterdag ’n bestuursvergadering by die huis van Riverstones se nuwe voorsitter, kaptein Andrew Appolis. * ROSES UNITED speel eerskomende naweek teen Belhar op die Erica-Sportgronde in Belhar. Dié wedstryd sal die Rose se laaste vriendskaplike wedstryd wees. Alle spelers sal dus alles in die stryd werp om hul plek in die onderskeie begin-vyftientalle vir die Premier-liga, wat volgende week begin, te verseker. Dit is veral agterlangs waar alles nog nie seepglad vir die Rose verloop nie. Hopelik sal die agterspelers dié naweek ’n meer afgeronde vertoning lewer. Die Rose se agttal sal ook sy spelpeil moet lig met die oog op die Premier-liga. * Young Gardens se eerste rugbyspan het Saterdag met 25-17 vasgeval teen Newtons Rugbyklub in hul eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen. Gardens se tweede span het met 27-5 die knie gebuig. Young Gardens speel Saterdag teen Langa op Gardens Park.
More
News
|