Paarl-Oos Krieketklub dring deur na halfeindronde
2009-03-19
Jaco van Wyk
DIE eerste krieketspan van GMT Paarl-Oos het ná Saterdag se slagting van Malmesbury, op laasgenoemde se tuisveld, sy plek in die halfeindronde van die premier-liga verseker. Paarl-Oos was dié seisoen slegs twee keer aan die verloorkant en het sodoende eerste geëindig in hul seksie. Paarl-Oos het die afgelope naweek weer gewys waarom hulle sulke gevreesde teenstanders is toe hulle vir Malmesbury gefrommel het met 169 lopies. Malmesbury het die loot gewen en besluit om die besoekers in te stuur om eerste te gaan kolf. Die Paarliete se kolwers was slaggereed vir die tuisspan se boulaanslag, en met Kurt Julius (50, 5x4) wat stewig vertoon het, kon Paarl-Oos 257 lopies behaal vir die verlies van agt paaltjies. Julius was mooi bygestaan deur die kolwers Garth Lewis (43, 4x4), Waylin September (22); Morne de Vries (25, 3x4) en Elroy Abrahams (32*, 4x4 en 1x6). September (4/27) het saam met Wayne Minnies (3/22) ook die bal die praatwerk laat doen deur vir Malmesbury uit te haal vir slegs 88 lopies. Keith Bruintjies was met 30 lopies (4x4) Malmesbury se enigste speler wat sy man met die kolf kon staan teen die Paarliete. W Bruintjies het 2 paaltjies platgetrek vir 46 lopies, terwyl B Lottering (2/36) die ander bouler was wat goed vertoon het vir die tuisspan. Paarl-Oos se wedstryd in die halfeindronde van die premier-liga vind Saterdag te New Orleans plaas waar hulle gaan kragte met met Victorians van Stellenbosch. * In die finaal van die Reserve Country liga speel Paarl-Oos III teen Maties III.
More
News
|