EK is verstom om te sien dat die nuwe teerlaag in Hoofstraat, Suider-Paarl, naby KWV skielik met ’n skerp rand stop.
Ek dag toe, nee, hulle sal seker nou enige dag verder teer. Toe verf hulle die strepe - nou lyk dit asof ons vir ewig met hierdie skerp, skadelike hoppel in die pad gaan sit. Kan dit wees?
Toeskouer
Die munisipale woordvoerder reageer: Die teerwerk in Hoofstraat is tydelik gestaak op versoek van ’n boer wat besig was om uitvoerdruiwe te oes. Stof weens die werk kon die kwaliteit van die druiwe nadelig beïnvloed en ons werksprogram is so aangepas. Die werk sal voltooi word voor einde Junie.