BESTE “Fools Paradise”: jy kla oor die nadele van landbouspuitstowwe op inwoners van die Paarl.
Dis vir my baie duidelik dat jy nie met ’n boer getroud is of dalk grootgeword het op ’n plaas nie.
Ek is getroud met ’n koringboer en het grootgeword op ’n wingerd- en appelkoosplaas. Ek was my lewe lank blootgestel aan die proses van onkruid- en gediertebeheer.
Ek vind egter dat my sinusprobleme hierdie tyd van die jaar, wanneer daar nie gespuit word, baie erger is as in die wintermaande, wanneer ons onkruidbeheer toepas deur middel van lugbespuiting.
Dit word eerder veroorsaak deur lugversorgers, wat oral in werking is gedurende die somer, in winkels, kantoorgeboue, huise. Noem dit en daar is maar ’n lugversorger.
Die hoofoorsaak van ons sinus en allergieë is stof.
As jy hiervoor goeie raad het, of iemand ken wat aanspreeklik gehou kan word, sal ek dit hoog op prys stel.
Ek is nou regtig moeg daarvoor dat boere vir almal se gesondheidsprobleme blameer word. Ons voorsien immers in die land se grootste behoeftes.
Sê liewer ’n slag dankie vir die lang ure en baie stres wat met boerdery gepaard gaan.