Springbokke in seewater
2009-03-26
Jaco van Wyk
NA sowat vier jaar se rowwe water-aksie, en ’n rits prestasies wat nie oornag gebeur het nie, is die Wellingtonse duo van Steyn Basson en Jan Kriel onlangs welverdiend beloon met Springbok-kleure in rubberbootrenne. Die nasionale span, wat op 7 April gaan deelneem aan die wêreldkampioenskappe in Port Elizabeth, is onlangs in Witbank aangekondig. Hoewel hul insluiting in die nasionale span ’n reuse prestasie is, is dit die twee vriende se opmars tot die groen en goud wat hul prestasie soveel meer indrukwekkend maak. Volgens Basson het hy in 2005 ’n boot gekoop na hy ingestaan het as kopman vir Helgo Hohenstein tydens die Trans Atlantic en Trans Agulhas. Basson het die boot gekoop met geld wat hy by sy pa geleen het en geld wat hy gekry het vir sy gesteelde motor. “Soos meeste beginners het ek begin met ’n stadige boot, ou toerusting en bitter min ervaring,” sê die 27-jarige Steyn, wat sy skooldae op die banke van Hoërskool Hugenote deurgebring het. “Ek en Jan het in 2000 ontmoet en in 2006 was hy mal genoeg om saam met my in die boot te klim.” Volgens Basson het hy en Kriel (die span se kopman) mekaar van meet af verstaan - ’n eienskap wat volgens Basson baie belangrik is wanneer ’n mens die rowwe see met sulke duur speelgoed aandurf. “Ons is albei taai, kan die water goed lees en ons aanvoeling in die boot is buitengewoon,” sê Basson. “Wat ek hiermee bedoel, is dat ons nie ’n woord hoef te praat tydens ’n resies nie. Hy weet presies wat ek gaan doen, en vice versa.” Aan die einde van 2006 het Basson en Kriel ’n reuse borgskap van Champs ontvang. “Julius Steyn van Champs kon seker die desperaatheid in ons stemme hoor en het toe besluit om ons te ondersteun. Dis toe dat dinge begin verander. “Ons het daardie jaar vir die eerste keer deelgeneem aan die nasionale kampioenskappe, en was geseën met resultate wat selfs ons wildste drome oortref het. “Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die kampioenskappe dat ’n span in hul nuwelingseisoen die meeste punte opstapel van alle klasse. “Ons was die nasionale blueprint kampioen, die algehele kampioen, die langafstand-kampioene en het die prys vir beste drywer en vir beste kopman ontvang tydens die jaarlikse afsluiting.” Volgens Steyn het 2006 se prestasies hulle onder behoorlike druk geplaas vir die volgende seisoen. “In 2007 het André Serdyn van Agriwire ons borgskap oorgeneem. Ons het nie so ’n goeie seisoen beleef nie. ’n Ernstige breek in Witbank en probleme met ons motor in Oos-Londen, het ons gekniehalter tydens die nasionale byeenkomste. Dit het veroorsaak dat ons die nommer een op ons boot verloor het en ons moes tevrede wees met ’n algehele derde plek. “In die streekswedrenne het dit egter steeds goed gegaan, en met stywe kompetisie van die Kapenaars, het ons na ses byeenkomste op nommer een in WP geëindig,” sê Basson. “Ons is toe verkies vir die WP span wat aan die Interprovinsiale byeenkoms in PE moes gaan deelneem.” Basson is van mening dat hulle tydens die interprovinsiale byeenkoms nie die vinnigste was nie, maar dat hulle slim gery het. “Na al die dissiplines afgehandel was, het ons net-net eerste geëindig - en dit teen die top spanne van elke provinsie. Ons het die seisoen dus op ’n goeie noot afgesluit.” Op die huidige stadium borg Bata Industrials vir Basson en Kriel. “Siende dat ons geseënd was met goeie resultate in 2007, was dit makliker om ’n goeie borg te kry,” sê Basson. Vir Basson-hulle het dié seisoen egter sy hoogte- en laagtepunte gehad. “Ons het skoonskip gemaak in Mykonos en nog altyd goed gedoen in die Strand. Maar daar was natuurlik ook laagtepunte,” voeg Steyn by. “In al vier Agulhasse waarin ons al gery het, het ons meganiese probleme met ons boot ondervind. Ons toerusting is top-gehalte, maar dit was goed wat buite ons beheer was. Ons het egter altyd opgemaak deur skofte, of die King of the Waves, te wen. “Maar die groot nommer een bly ons steeds ontwyk,” sê Basson. “Baie van ons sukses kan toegeskryf word aan ons uitstekende landspan. Donald Horne is ons werktuigkundige en het al telkemale die dag gered. “Francois Siebrits en James Muller is ons ander manne wat permanent, van die kant af, seker maak dinge loop vlot. “Ons bootvervaardiger, Aquarius, kyk ook ontsettend goed na ons. Sonder hul ondersteuning is dit nie moontlik om goed te vaar nie.” Wat ongelukke aanbetref, was Basson en Kriel tot onlangs toe nog baie gelukkig. Tot drie weke gelede. “Ons het onlangs in Witbank ons eerste groot ongeluk gehad toe ’n ander boot buite beheer geraak het en ons kop-aan-kop getref het,” sê Basson. “Hoewel ons boot lelik deurgeloop het, was daar gelukkig geen ernstige beserings nie. Hiervoor gee ons al die eer aan die Here.”
More
News
|