Polisieman vas oor huisbraak
2009-03-26
’n BEKENDE oud-polisieman van die Paarl is verlede week in hegtenis geneem in verband met huisbraak. Nardie Groenewald en sy broer, Jacques, word reeds ’n geruime tyd deur die polisie ondersoek vir huisbraak. Verlede week het die polisie ’n hofbevel bekom om Groenewald se woning op die hoek van Bergrivier Boulevard en Haarlemstraat in Sentraal-Paarl te deursoek. Hier het hulle afgekom op ’n verskeidenheid gesteelde goedere. Die Groenewaldbroers is albei in hegtenis geneem vir huisbraak en besit van gesteelde goedere. Hulle het die naweek deurgebring in die polisieselle, voordat hulle Maandagoggend in die Paarlse landdroshof verskyn het en op borg vrygelaat is. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat speurders al ’n geruime tyd lank ondersoek instel na beweerde misdrywe wat deur die Groenewaldbroers gepleeg word. “Tans word nog sake van huisbrake ondersoek, nie net in dié gebied nie, maar elders ook. Ander misdade word ook intussen ondersoek. “Groenewald se misdrywe is soos ’n sweer wat nou oopgebars het.” Die afgelope naweek is geen inbrake by die Paarl polisiestasie aangemeld nie. Groenewald was op sy dag ’n gesoute speurder by Paarl polisiestasie. * A well-known policeman has been arrested for house-breaking.
More
News
|