VRIENDE van die Wellington Museum en ander belangstellendes word hartlik uitgenooi om te deel in ’n uitstappie na die Smuts-woning in Riebeek-Wes en die Oude Kerk Museum in Riebeek-Kasteel op Saterdagoggend 28 Maart om 08:30.
Die Smuts-woning op die geboorteplaas van Jan Smuts is in Kaaps-Hollandse styl en pragtig gerestoureer. Die besigtigingstoer van die Smuts-woning word afgesluit met ’n interessante foto-uitstalling.
Die Oude Kerk is nie ’n groot museum nie, maar spesialiseer in waens en wamakers-implemente waarvan daar baie is - ’n gids sal byderhand wees om die gebruik van elk te verduidelik.
Die koste van die uitstappie is R20 wat toegangsgelde insluit sowel as koffie of tee en versnaperinge in die “voormanshuis” van die Smuts-woning by aankoms.
Ná die besoek aan die Oude Kerk Museum word op eie koste verversings geniet.
Die groep vertrek van die Wellington Museum en keer 13:00 terug. Bespreek by Isadene Pienaar 021-873-4873 of chrisad @metroweb.co.za.