EEN oggend kyk jy nog in lieflike ou japonika- en geelhoutbome vas wat voor Huis Bethel in Meulstraat gestaan het, op die sportterrein van Hoërskool Labori, en die volgende dag bly daar amper niks daarvan oor nie.
Byna was al die geelhout- en olienhoutbome saam met die uitheemses almal afgesaag en die wortels uitgegrawe vir die plavei van die parkeerterrein waarmee hulle besig is.
As dit nie was vir besorgde Paarliete wat ingespring het en die aksies gestaak het nie, het niks oorgebly nie.
Van die ses geelhoutbome is vier darem gered en ook die ou olienhoutboom wat amper ook deel was van die slagveld.
Dit is bitter hartseer om te sien hoe onkundige mense sulke groot besluite neem en dit vir ’n geplaveide parkeerarea.
Kan mens nie om bome bou nie?
Dit is nie asof die geelhoutbome enige obstruksie gebied het nie, hulle bied skadu en is inheems.
Dit lyk my deesdae moet alles wat groen is plek maak vir beton, teer en plaveisel.
’n Mens verwag vandag meer sensitiwiteit wat betref die bewaring van inheemse fauna en flora wat baie voordele inhou vir die waterkrisisse waarteen ons daagliks gewaarsku word.