Herlewingskongres op Wellington
2005-08-11
‘n BESONDERSE herlewingskongres word aan die einde van Augustus aangebied op Wellington, met die internasionaal-bekende leraar en mede-skrywer van Experiencing God, dr Henry Blackaby, as hoofspreker.
Die Wes-Kaapse Herlewingskongres met die titel “Revival is our only Hope” vind die naweek van 26 tot 28 Augustus plaas by die NG Moedergemeente Wellington.
Die kongres sal onder meer fokus op aspekte van prediking, gebed, aanbidding en die gemeenskap met gelowiges.
Dr Blackaby is tans in Suid-Afrika vir ‘n landwye besoek aan talle stede danksy die ondersteuning van Revival SA.
Dié gewilde spreker met ‘n hart vir ‘n Bybelse herlewing is onder talle lesers van geestelike literatuur bekend as die mede-skrywer van die Experiencing God-reeks wat toekennings gewen het.
Tydens die kongres word hy onder meer bygestaan deur sy seun, dr Richard Blackaby, wat ook ‘n leraar, skrywer en spreker is. Dr Blackaby junior is ook die president van die Kanadese Southern Baptist Seminary in Alberta.
Ander sprekers wat sal optree is die Amerikaanse evangelis en stigter van die Heart-Cry for Revival Konferensiereeks, Ralph Sutera, asook die evangelis-egpaar Dr Colin en Mary Peckham.
Sy is ‘n Skot, terwyl dr Peckham in Suid-Afrika gebore en hier die beginjare van sy evangelisasiebediening deurgebring het. Hy was onder meer hoof van die Faith Mission Bybelskool in Edinburgh in Skotland.
Huw Priday van Wallis sal die sang en musiekbediening gedurende die konferensie lei.
Sondag se erediens in die gemeente, wat as deel van die kursus aangebied word, word gelei deur Suid-Afrikaner dr Francois Carr, uitvoerende direkteur van Revival SA en beloof om ook ‘n besonderse hoogtepunt te wees.
Aangesien kursusgangers van regoor die Wes-Kaap verwag word, word verblyf onder meer aangebied in Hugenote Hoër se koshuisfasiliteite. Mense wat dit wil bespreek, teen R90 per aand, kan Hugenote Hoërskool kontak by 873-1078, of Wellington Toerisme by 873-4604.
Inskrywings sluit op Vrydag 12 Augustus. Vir navrae of inskrywings, kontak die NG Moeder.gemeente Wellington se kerkkantoor by 873-1561 of e-pos: ngwell@xsinet.co.za.
More
News
|