Kursusse trek studente
2009-04-02
Johan Nel
ALTESAAM 45 studente het die afgelope week diplomas ontvang by die Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington. Daleen Pretorius van die Paarl is op die jongste diplomaplegtigheid aangewys as die beste student in tuisversorging en Essie Sep- tember was die beste student in kindersorg. Dailene Swarts het ’n spesiale prys in kindersorg ontvang wat haar in staat stel om ’n addisionele kursus in babasorg gratis by ‘Baby Hands’ in die Paarl by te woon. Die sentrum, wat aanvanklik begin is om veral werklose vroue in die Wellington-omgewing op te lei in kinder- en kleutersorg en ook in gesondheid- en tuisversorging, het die afgelope tien jaar bykans 3600 studente suksesvol opgelei. Al hierdie studente is sedertdien in permanente poste aangestel. Volgens die stigter en hoof van die sentrum, suster Iréne de Waal, is daar ’n groot aanvraag na die sentrum se studente. Gesondheidsorg-studente word hoofsaaklik aangestel om bejaardes tuis te versorg en studente in kinder- en kleutersorg is baie gesog by kleuterskole. Aanvanklik was dit hoofsaaklik studente uit die Wellington-omgewing wat die kursusse by die sentrum bygewoon het, maar die jongste kursus – die 44ste kursus wat aangebied is - het studente vanuit ’n veel wyer gebied gelok. Onder die studente wat pas diplomas ontvang het, was daar een vanaf Merweville in die Karoo, terwyl ander vanaf Piketberg en Tulbagh gekom het. Die volgende kursus, wat in Engels aangebied word, begin op 20 April. Voornemende studente kan vanaf 14 April meer besonderhede oor die kursus bekom deur 021-873 5942 te skakel.
More
News
|