Protesvergadering oor plakkerskamp
2009-04-02
PAARLSE nyweraars wat bekommerd is oor die beoogde vestiging van 92 plakkersgesinne in Drommedarisstraat, Daljosafat, hou vanaand om 18:30 ’n publieke vergadering in Noord-Eind Laerskool se skoolsaal om dié aangeleentheid te bespreek. Dié nyweraars het die afgelope week ’n pamflet in Noorder-Paarl onder inwoners versprei oor die plakkerskamp wat aan die anderkant van die Bergrivier regoor dié woonbuurt tot stand gaan kom. In die pamflet noem hulle dat so ’n plakkerskamp, 1,1 kilometer daarvandaan, die gebied baie kan beïnvloed. ’n Vergadering om met dié nyweraars te konsulteer, is onlangs deur dr Sidima Kabanyane, munisipale bestuurder van Drakenstein, gehou. Verskeie van die sakelui in die Daljosafat-nywerheidsgebied het tydens die vergadering sterk te velde getrek teen dié hervestigingsbesluit. Die feit dat die Munisipaliteit ook nie kan sê presies hoe lank die plakkers hulle bure gaan wees nie, het hulle verder omgekrap. Kabanyane het ná die vergadering aangedui dat die besetting een tot twee jaar sal duur. “As die plakkers eers hier is, is dit moeilik om hulle uit te kry,” sê een van die ontstoke nyweraars. “Wat dit op die ou einde beteken is dat ons grond se waarde sal daal, dat diefstal sal toeneem en dat ons versekeringspremies sal styg. Ek wonder of die munisipaliteit ons daarvoor gaan kompenseer?” Dié sakelui dreig nou selfs om ’n trustrekening te skep sodat hulle hul belasting daarin kan inbetaal, totdat die aangeleentheid besleg kan word. Volgens die Munisipaliteit word dié verskuiwing genoodsaak deur ’n brand wat in Oktober in die OR Tambo informele area noord van Mbekweni (Swart- bergstraat) ontstaan het. ’n Eskom kraglyn is erg beskadig en moes buite werking gestel word om veiligheidsredes. “Die feit dat die lyn buite werking is, veroorsaak groot verliese vir Eskom en belemmer hul kragtoevoer. “Eskom het ons tot die einde April gegee om die verskuiwings te implementeer. Indien ons nie ag slaan op die datum nie, sal litigasie volg wat groot somme geld kan kos,” sê Kabanyane.
More
News
|