Nog ’n padsterfte weens onwettige bestuurder
2009-04-02
Lise Beyers
TIEN dae nadat ’n elfjarige seun sy lewe verloor het in Klein Drakensteinweg, is ’n man ook híér doodgery. Nou sit ’n jong ma sonder haar broodwinner-man, en twee jong kinders sonder pa. John Arendse (28) het verlede Donderdagaand oudergewoonte sy motor by ’n familielid agter slot en grendel gaan parkeer in Maystraat, ’n entjie van sy woonstel in Ivanhoepark. Arendse het Klein Drakensteinweg gekruis op pad huis toe, by die voetoorgang voor die sentrum, toe ’n motor op hom afgepyl het. Hy is getref en het etlike meters deur die lug getrek en op die sypaadjie te lande gekom. Arendse het veelvuldige beserings opgedoen en het binne minute gesterf, voor talle nuuskieriges wat om die beseerde man saamgedrom het. Sy vrou van skaars twee jaar, Lashaé, het die rumoer gehoor, en eers met haar aankoms op die toneel besef dat dit haar man is, wat langs die pad dood lê. Omstanders het vertel dat die motor wat verantwoordelik was vir Arendse se dood op hom afgepeil het sonder om te aarsel. Nog die motor óf die bestuurder is gelisensieerd. ’n Saak van strafbare manslag word nou teen Marcello Booysen van Magnolia Woonstelle ondersoek. ’n Verslae Lashaé het gesê dat Booysen en sy voertuig dikwels in die gebied gesien word. “Dit is bekend dat hy met Tik handel dryf en dat hy onwettig met sy motor rondry. “Nou is my man en die pa van my kind dood. Hy moet vir moord aangekla word.” Curt Jantjies (10) is tien dae voor hierdie voorval dood, ook nadat ’n ongelisensieerde bestuurder hom omgery het. Inwoners van die gebied is nou ontstoke oor die tekort aan wetstoepassing in die gebied. “Hoeveel mense moet nog hier sterf?” het Jerome Philander wat in Klein Drakensteinweg woon, gevra. “Ons het al jare lank die probleem van onwettige straatrenne hier wat die hele buurt heelnag wakker hou. Maar nou blyk dit asof mense heeldag en nag net ry soos wat hulle wil, want hulle weet dat die verkeersowerhede nêrens te siene is nie.” Arendse word oorleef deur sy vrou, dogtertjie Mishé (2) en seun Jeovano (10). Hy word Saterdag om 09:00 begrawe vanaf sy ouerhuis in Suikerbekkiestraat 598, Amstellhof, en om 10:00 by die Apostoliese Kerk in Riverside. Arendse het verlede jaar by die dood omgedraai toe hy op ’n trein naby Kraaifontein beroof en aangerand is, en toe van die trein gegooi. *Another person has died after being run down by an unlicensed motorist.
More
News
|