Landbou en politici praat saam by Cape Agri Week
2009-04-02
DIE mees prominente politieke partye sal op Vrydagmiddag 17 April tydens die Agri Cape Week wat by Hoër Landbouskool Boland in Agter-Paarl plaasvind, deelneem aan ’n Praat Saam-program, onder leiding van Freek Robinson, van RSG. Dit begin om 14:00. Gedurende dié indaba sal Robinson toesien dat tradisionele kommersiële boere, beginnerboere, plaaswerkers en georganiseerde landbou op ’n opbouende wyse met verteenwoordigers van die OD, DA, ANC, COPE en VF+ gesprek voer. Na verwagting sal die besprekings veral fokus op sake soos algemene landboubeleid, landelike- en plaasveiligheid, plaasafsettings en -verblyf, politiek en politici se invloed op die bedryf, produksiestandaarde, landbounavorsing, grondhervorming en landboutransformasie, volhoubare voedselproduksie, grondbelasting, vaardigheidsopleiding en bemagtigings-programme, invoer en uitvoer van produkte, die posisie van plaaslike verbouers van landbou-produkte ten opsigte van buitelandse produsente, arbeidspraktyke en -wetgewing, landbou-infrastruktuur, breëbasis swart ekonomiese bemagtiging, dienslewering en die rol van plaaswerkers in die bedryf. Agri Cape Week, soortgelyk aan die gebeure by die jaarlikse Agri Mega Week in Bredasdorp en Nampo Oesfees in Bothaville, bied verskeie geleenthede tot landbougesprek en indaba oor die bedrywe in landbou. Georganiseerde landbou-organisasies soos Agri Wes-Kaap, United South African Agricultural Association (USAAA), die South African Farmworkers Union (SAFWA) en ander is reeds genooi om landbougerigte vrae vir die politici te formuleer. Afgesien van verteenwoordigers van dié organisasies sal die geleentheid ook deur boere en plaaswerkers bygewoon word. Verteenwoordigers van al die partye sal geleentheid hê om elke vraag te beantwoord wat die organisasies deur Robinson vra. Die Praat Saam-program is weliswaar kort voor die nasionale en provinsiale verkiesings, maar politiekery of plakkate sal nie geduld word nie. Die program bied landbouers ’n geleentheid om by politici oor die toekoms van landbou in die Wes-Kaap te verneem. Vir navrae, kontak Leensie Streicher by 028-424-2890.
More
News
|