Paarl Rugbyklub verslaan sterk teenstander
2009-04-02
PAARL RUGBYKLUB se eerste span het verlede Vrydagaand ’n skitterende oorwinning oor Kraaifontein behaal op die velde van Hoërskool Gimnasium. Wat Paarl se 30-20 oorwinning oor hul opponente so indrukwekkend maak, is die feit dat Kraaifontein vanjaar in die WP se Super A liga speel. Paarl se voorhoede het baie sterk geskrum en verskeie male die besoekers van die bal af geskrum. Hoewel die hele agterlyn van Paarl goed verdedig het, verdien die stewige spel van die senter Renier Bester vermelding. Paarl se drieë is behaal deur die vleuel Marco Martin (2 drieë), skrumskakel Eugene Francis en die flank Edwin Conradie. Die res van die punte is behaal deur middel van die heelagter Jaco Immelman se skopskoen. Paarl se tweede span het 13-elk gelykop gespeel terwyl die derde span hul teenstanders met 40-0 oorrompel het. Paarl se o.20’s het Saterdag ’n span van Saldanha Vloot Akademie oortuigend met 43-10 verslaan. Paarl speel Saterdag hul eerste ligawedstryd van die seisoen teen St Georges op die velde van Hoër Jongenskool te Brugstraat. Die eerste wedstryd begin om 13:30.
More
News
|