OP 1 Maart het nuwe eienaars die Volkswagen-agentskap in die Paarl oorgeneem. Graag bring ek die volgende onder u aandag:
1. Die diensgeskiedenis van voertuie en persoonlike inligting van jarelange lojale kliënte is op die rekenaarstelsel uitgewis.
2. Basiese onderdele word nie in voorraad gehou nie, maar word van die nuwe eienaars se ander takke (Worcester en Stellenbosch) bekom.
As die takke nie die item in voorraad het nie, word dit van die fabriek bestel (dit duur twee dae voordat die onderdele in die Paarl is).
Onder die vorige bestel het Barons Culemborg twee keer per dag onderdele in die Paarl afgelewer om te verseker voertuie word vinnig gediens. Kliënte moet nou voertuie ’n tweede keer en selfs ’n derde keer inbring vir herstel omdat onderdele nie beskikbaar is nie.
3. Paarlvallei Motors het vyf “leenmotors” beskikbaar gehad vir kliënte teen ’n fooi van sowat R100 per dag. Die nuwe eienaars stel net twee voertuie beskikbaar teen ’n fooi van meer as R300 per dag. As die voertuig beskadig word, is die bybetaling R10 000.
Dit is duidelik dat die nuwe eienaars nie ’n duit omgee vir sy lojale kliëntebasis nie en dat dit my noop om my volgende voertuigaankoop in heroorweging te neem.
Herman le RouxAngriff Coetzee, handelaarshoof, reageer: Paarl Vallei Motors is op 1 Maart oorgeneem deur die NTT Motor Groep. Die agentskap sal dan ook voortaan bekendstaan as NTT Volkswagen Paarl. Daar is vyf Volkswagen agentskappe in die NTT Groep, naamlik Worcester, Paarl, Stellenbosch, Oos-Londen en Heidelberg in Gauteng. NTT VW Paarl sal altyd poog om “basiese” of bewegende onderdele in voorraad aan te hou. Stadig-bewegende onderdele word egter vanaf die fabriek en ander handelaars bekom. Dit maak natuurlik sin om eers by ander takke in die groep aan te koop voordat onderdele van ander handelaar bekom word. Onderdele wat voor 11:00 van die fabriek bestel word, word die volgende dag afgelewer. Leenvoertuie is steeds beskikbaar en die fooie word na gelang van die gebruik bepaal. Ons poog om steeds die beste diensvlakke te handhaaf.