EK was ook een van die sogenaamde “laatslapers” wat verlede Maandag so rondom twee-uur die middag by die Paarl Polisiestasie ingezoem het om (vinnig) my aansoek om ’n vuurwapenlisensie af te handel.
Ek loop my toe vas in ’n ry wat minstens 40 diep was. Die tydwiskunde wat ek toe maak wat as basis had dat elke aansoek rondom 45 minute duur en daar slegs twee rekenaars is vir insleuteling, was dat ek minstens agt uur in die ry sou moes staan en een meter per uur sou beweeg.
My vriend Bernie wat reeds sedert agtuur die oggend in die ry was, het my berekenings beaam as hoogs waarskynlik en onrusbarend korrek.
Ek het oorweeg om te loop en Dinsdagoggend weer te probeer, maar ek en die mense rondom my het toe soos een man besluit ons byt vas. Afrika is nie vir sissies nie.
Baie graag wil ek ’n woord van baie groot dank en waardering rig aan die beamptes van die SAPD wat sonder om ooit te kla en ten spyte van tegnologie wat hulle kort-kort in die steek gelaat het, aangehou het om ons in die beste gees te help om al die vorms te kontroleer en ons aansoeke af te handel. Dit was magic.
In ’n groeiende nasionale kultuur van swak openbare dienslewering was dit ’n skitterende voorbeeld van presies die teenoorgestelde en uiters bemoedigend.Pietie Traut