Vier sterf in geweld
2009-04-09
Lise Beyers
DRANKMISBRUIK het waarskynlik gelei tot die gewelddadige dood van vier mense die afgelope naweek. ’n Vrou, Susan Ohlsen, is Saterdagaand in Fairyland verwurg met haar eie hemp, nadat sy en haar man na bewering oor geld en drank gestry het. Dawid Ohlsen het vandeesweek in die Paarl Landdroshof verskyn in verband met die voorval. Op Leeurivier-plaas in Wellington is ’n man dood, nadat hy met ’n bottel geslaan is. Gillie van Rooyen (32) is tydens ’n argument met Jeremy September (19) met die bottel teen die arm getref. Hulle was vir die dag saam met ander werknemers van die plaas na die Strand toe, en hiér het ’n rusie reeds ontstaan. Die bottel waarmee Van Rooyen geslaan is, het gebreek en ’n slagaar in sy arm afgesny. Hy het op die toneel doodgebloei. September is in hegtenis geneem. In Mbekweni het polisie Saterdagmiddag op die liggaam van Mthetheleli Ngeva (32) in OR afgekom met ’n steekwond in sy bors. Volgens ooggetuies het Ngeva en sy vriendin dié middag gestry, toe nog ’n man tussen- beide getree het en vir Ngeva met ’n mes gesteek het. Leon Skumbuzo het vandeesweek in die Wellington Landdroshof verskyn op aanklag van moord. Sondagaand is nog ’n man in Mbekweni dood, ook weens meswonde. Lwando Nhxazisa (24) was in OR betrokke in ’n argument waartydens hy ’n man met ’n skerp voorwerp aangeval het. Nhxazisa is toe ook met ’n mes aangeval en in die kop en bors gesteek. Hy is op die toneel dood. Thandisizwe Malgas is in hegtenis geneem in verband met die voorval. * Die vorige naweek is ’n man in Mbekweni ook dood, nadat hy in ’n sjebeen met ’n mes gesteek is. Mbulelo Mbunje (32) is later die dag in die Paarl Hospitaal aan sy wonde oorlede. Niemand is totdusver in hegtenis geneem nie. * Four people died this past weekend due to alcohol induced violence.
More
News
|