Nog ’n voetganger getref
2009-04-09
KLEIN DRAKENSTEINWEG het die afgelope naweek nog ’n slagoffer geëis, toe ’n jong seun deur ’n motor raak gery isGiyano Baartman (8) het hierdie pad oorgesteek naby die Paarl-Oos swembad, toe hy deur die motor getref is. Hy het deur die lug getrek en agter die voertuig te lande gekom. Baartman is per helikopter na die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad vervoer, weens ernstige kopbeserings. Dit is die derde voorval in minder as ’n maand waar iemand op Klein Drakensteinweg, Paarl-Oos, deur voertuie raak gery is. Voorverlede week is John Arendse hier dood gery, en die vorige week is die tienjarige Curt Jantjies ook dood gery. Albei hierdie slagoffers is raak gery deur ongelisensieerde bestuurders. Vrae ontstaan al ’n geruime tyd oor die tekort aan wetstoepassing op hierdie pad. Daar is wel twee spoedkameras, maar nie een van hulle is aangeskakel nie, en spoedvrate steur hulle nie aan die spoedbeperking nie. Inwoners versoek dat spoed-hobbels aangebring moet word. “Hoeveel mense moet nog sterf, voordat iets hieromtrent gedoen gaan word?” word gevra.
More
News
|